Local newsNews

Brief: ‘Ons het ‘n veeartsenykundige krisis’

Ek voorsien ongelukkig geen verbetering in die stand van sake vir die toekomstige vyf jaar nie.

Dr Stephen de Rouwe (BVSc), plaaslike veearts skryf:

As ‘n veearts skryf ek hierdie inligtingstuk om die publiek in te lig oor die huidige krisis in veeartsenykunde sowel as om julle toe te rus om dié situasie suksesvol aan te pak.

Oor die laaste twee jaar het die posisie waarin veeartse hulself bevind dramaties verswak weens ‘n samevloei van faktore buite ons beheer.

Dit is veral die groot tekort aan veeartse wat die werkslading laat toeneem het tot ongekende vlakke. Ek skryf uit die oogpunt van ‘n kliniek wat verskeie kere ‘n derde veearts probeer bekom maar waarvoor geen aansoeke vir die pos ontvang is nie. Ons word dus noodgedwonge geforseer om onder ontsaglike werksdruk ons beroep te beoefen.

Bydraend tot hierdie tekort is die onvoldoende getalle veeartse wat jaarliks kwalifiseer, tesame met die besluit van nuut-gekwalifiseerde veeartse om oorsee hulle beroep te beoefen.

Volgens ‘n onlangse artikel wat ek gelees het, het 105 van 126 nuut-gekwalifiseerde veeartse aangedui dat hulle na hulle ‘Zuma jaar’ beplan om oorsee te gaan.


LEES OOK: Psalm91, RATA to hold spaying outreach


‘n Mens kan seker in die huidige politiese en sosiale stand van die land hulle nie blameer nie, maar vir die oorblywende veeartse wat hulle dringend nodig het is dit katastrofies.

Dit, tesame met ander verliese soos aftrede, swangerskap, beroepsverandering en selfdood (5 tot 10 per jaar) het ons in ‘n situasie geplaas waar veeartse al hoe minder en minder word.

Die effek van hierdie verliese is natuurlik voorspelbaar: Veeartse se werkslading per persoon het baie toegeneem.

Ons sien hoe praktyke so groot soos ses-man praktyke vou onder die druk en uitmekaarval bloot oor die werksdruk te hoog word.

Indien twee veeartse in so ‘n praktyk sou bedank, word die werkslading op die oorblywende veeartse geplaas, tot dit op ‘n punt kom waar die volgende veearts bedank en so gaan die bose kringloop net aan.

Sou die praktyk vou, word die druk op die naasliggende veeartsenykundige praktyk oorgeplaas en so hou hierdie boosheid net aan en aan.

Wat kan verwag word in die volgende paar jaar en hoe kan ek myself daarvoor voorberei?
• Klinieke sal van tyd tot tyd toemaak om die veeartse rustyd te bied. Geen tot bittermin ‘locums’ is beskikbaar om in te staan wanneer ‘n veearts moet verlof neem nie. Die werkslading is ook te hoog om die oorblywende veearts (2-man praktyk) te los met al die werk.

Die enigste oplossing is dus om noodgedwonge tye van rus te neem waar die hele kliniek toegemaak moet word. Alhoewel die finansiële implikasies van so ‘n week hoog is, het ons geen ander keuse nie. Die personeel moet rus.

• Pryse vir dienste gelewer sal dramaties toeneem oor die volgende paar jaar weens die oorvloed van werk.

• Wagtye by praktyke sal uitgerek word. Wees bereid om tot met 3 ure te sit en wag voordat dit jou beurt is.

• Besprekings vir elektiewe chirurgie soos sterilisasies gaan lang wagtye hê.

• Verkorte spreekure om die nodige chirurgie in te pas en voldoende rustyd tussen konsultasies toe te laat.
Stappe wat jy kan neem om jou lewe makliker te maak.


LEES OOK: Stap vir Bybels skilderyprys word aan Sonneveld Akademie oorhandig


• Kry ‘n mediese fonds vir jou troetdier. Wanneer pryse begin toeneem sal dit jou baat om beskerming te hê.
Gereeld sien ons kliënte wat in trane hulle diere moet laat uitsit weens gebrek aan die nodige finansies. Hierdie stap is van uiterse belang vir die volgende paar jaar!

• Kies ‘n sekondêre veearts van voorkeur, sou jou veearts toe wees vir verlof.

• Bespreek elektiewe chirurgie vroegtydig om teleurstelling te voorkom. (Moenie wag tot Fiefie reeds op hitte is en al jou beddegoed met bloed besmeer is voordat jy besluit om jou afspraak te maak nie. Onthou jy kan dalk maklik drie weke en langer wag vir ‘n afspraak).

• Probeer jou diere so gesond as moontlik hou. Inentings, ontwurming, bosluisbeheer en voorkoming sowel as goeie kwaliteit kosse is belangrik vir jou troeteldier se welstand.

• Berei jouself voor om moontlik lank te sit en wag voor jy gehelp kan word.

• Wees bedagsaam en vriendelik wanneer jy hulp nodig het. Onthou dat die ontvangspersoneel ook onder groot druk verkeer en dat beleefdheid waarskynlik jou saak sal bevorder.

• Tree vroegtydig op as jou troeteldier siek word. Onthou, hoe langer jy wag en hoe sieker jou troeteldier word, hoe minder word die kans van herstel en hoe hoër gaan die kostes wees om jou troeteldier te red. Moenie wag tot Vrydagaand of die naweek voor jy jou dier inbring vir behandeling nie.

Dit gaan jou duur te staan kom. Ek voorsien ongelukkig geen verbetering in die stand van sake vir die toekomstige vyf jaar nie.

Daar is sprake van ‘n moontlike veeartsenykundige fakulteit vir opleiding in die Wes-Kaap en moontlik in die Vrystaat maar nog geen definitiewe stappe is geneem nie. Selfs sou dit materialiseer neem dit ‘n vêrdere ses jaar voordat studente daar sal gradueer.

Die uitvloei van gegradueerdes uit die land is natuurlik ook kommerwekkend, sowel as die staat se behoefte om vakante staatsveearts poste te vul.

Myns insiens is die toekomsblik ongelukkig nie rooskleurig nie. Ek rig ook hierdie brief as ‘n hulpkreet aan die publiek.

Ons sien toenemend al hoe meer ongeskikte, bombastiese selfgerigte kliënte wat ons lewens vir ons ondraaglik maak.

Die onmenslike druk wat dit op ons personeel plaas is totaal onnodig en uiters onvanpas. Wees gewaarsku dat praktyke toenemend hulleself sal begin beskerm teen hierdie misbruik en sou jy jouself skuldig maak aan sulke wangedrag, jy toekomstige dienste geweier kan word.

Ek hoop dat hierdie skrywe aanklank sal vind by ons menige goeie kliënte waarvan daar ook gelukkig heelwat is.
Ons sal probeer om hierdie stormwaters suksesvol te navigeer maar ons het ook julle ondersteuning nodig.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button