Local newsNews

Dalpark 1 inwoners stuit verval deur selfdoen

Die Dalpark 1 inwoners het self ingespring en opknappingswerk aangepak.

Al hoe meer inwoners van die dorp is besig, om danksy hul eie inisiatiewe, ‘n positiewe impak te hê om die algemene voorkoms van die dorp te verbeter.

Die inwoners van Dalpark 1 is veral daarvoor bekend dat hulle hulself beywer om hul woonbuurt in stand te hou.

Daar is onlangs weer eens saamgestaan en fondse is ingesamel vir die opknapping van veral die ingang tot die woonbuurt, waar die padmerke onder andere oorgeverf is.

Die Herald het juis voorheen berig oor die toestand van padmerke in die dorp, en die gevaar wat dit vir motoriste inhou (Dowwe padmerke ‘n kopseer vir inwoners, motoriste, 19 Augustus).

Die metro het op navraag oor die kwessie aangedui dat hulle ‘n opdrag aan ‘n kontrakteur gegee het om werk uit te voer om die hoofpaaie in Brakpan en Tsakane oor te verf. Geen inligting oor systrate is egter deurgegee nie.


Die groep werkers wat Saterdag die projek behartig het.

“Dalpark 1 se inwoners het weer hande gevat, beursies oop gemaak en gehelp om Brakpan stadsraad se werk te doen,” het Bart Zaayman, ‘n lid van die inwonersvereniging gesê.

Die projek, wat Saterdag aangepak is, het behels om gemors op te tel en weg te ry na die Minnebron mini vullisterrein, die palmbome by die ingang te snoei, en om die padmerke en randstene oor te verf.

Jan van Tonder, die operasionele bestuurder van die vereniging, het self die bome gesnoei en saam met agt mense ingespring om die verfwerk te doen.

“As ons nie self in klim nie gaan die plek net agteruit gaan,” het hy gesê.


LEES OOK: Psalm91, RATA to hold spaying outreach


Siphiwe Mthembu en Darren Venter het meeste van die verfwerk gedoen, maar die gemeenskap het op ander maniere bygedra.

Kinders het fluks gewerskaf om die strate, wat geverf moes word te vee, ander het vir die groep koeldranke aangedra, en die inwoners het finansieël bygedra tot die projek.

Die ingang van die buurt se padmerke en randstene is oorgeverf, sowel as ‘n strook van die eerste systraat na die ingang.

Die vereniging beoog om met tyd die hele buurt se strate op te knap vir die veiligheid van inwoners en motoriste.
Jan het ook ‘n spesiale woord van dank vir CP Security gehad wat altyd bereidwillig is om te help.

Die groep vrywilligers was Saterdag van 08:30 tot 15:00 druk besig en die resultate spreek vir hulself.


LEES OOK: Cupcakes of Hope to return to Mall@Carnival


Related Articles

Back to top button