Local newsNews

Kunstenaar skenk skildery vir Stap vir Bybels aflos

Die olieverf skilder met 55 jaar se ondervinding verkoop selfs in die VSA en Europa.

Andries Kruger (70) van Brakpan-Sentraal het Vrydag van die laaste kwashale getrek vir ‘n skildery van ‘n olifant ten bate van Bybelverspreiding.

Dié gesogte kunstenaar, met 55 jaar se ervaring en talent wat vir hom skilderye verkoop in die VSA en Europa, skenk die skildery aan die Bybelgenootskap, wat ‘n aflos stap gaan hou op 24 Augustus vir skole en kerke in die omgewing.

Die skildery gaan na die skool wat die meeste spanne inskryf vir die wedloop, waar dit met trots in die skool uitgestal kan word. Andries het met potlode en houtskool begin teken toe hy 11 jaar oud was.

Op 15-jarige ouderdom het sy ma vir hom ‘n stel olieverf en kwaste gekoop, sowel as ‘n boek met die naam How to Paint Seascapes.

Andries het homself geleer skilder en vir eers uit tydskrifte inspirasie gekry vir sy stukke. Toe hy later vir Eskom gewerk het en meters gelees het, het hy die kans gehad om landskappe en tonele te sien op plase, wat groot inspirasie gebied het.

Hy het begin om die tonele te skets en dit dan in die vroeë oggendure by die huis te skilder.


Die skildery van ‘n olifant gaan na die skool wat die meeste spanne inskryf vir die Bybel Stap.

Hy het gereeld van 2:00 tot 6:00 geskilder voor hy reggemaak het vir werk.

Vir ‘n lang tyd het Andries sy stukke uit die hand verkoop, totdat hy by South African Artists aangesluit het, waarna hy sy werke ook internasionaal begin verkoop het.

Sy eerste internasionale verkope het gekom nadat hy ‘n stuk aan iemand in Hollywood verkoop het, waarna daar groot belangstelling in sy werk gekweek is.

Andries werk amper uitsluitlik in olieverf, en het nog nooit ‘n akrielverf of waterverf skildery geskep nie.

As hy akriel gebruik is dit om die ‘underpainting’ te doen, ‘n eentonige laag waarop kleure gebou word om die skildery dimensie te gee, of om uit te lê waar watter kleure gaan kom.

Andries het al selfs klasse gebied, en sy grootste stukkie raad wat hy altyd gee is om te begin deur te leer teken is:


Andries het ‘n stelsel gebou op sy esel om seker te maak sy hand raak nie aan die nat skildery terwyl hy skilder nie. Fotos: Charma du Plessis.

“As jy nie ‘n tekening kan doen nie, en ek bedoel tegniese tekene in perspektief of isometries, kan jy nie skilder nie,” sê hy.

Hy deel ook dat hy glo dat niemand, met ‘n belangstelling in kuns, hul talente moet begrawe nie.

“Niemand begin met ‘n magdom talent nie. As jy baie talent het, maar nie hard werk nie, sal jy minder bereik as iemand met bietjie talent wat baie hard werk,” verduidelik hy.

Vir Andries is die skenking vir die Bybelgenootskap baie belangrik.

“As Christene is dit ons verantwoordelikheid om die Woord van God te versprei en bereikbaar en bekombaar te maak vir diegene wat nie toegang het nie, so as ek kan help deur my talent te gee sal dit my bly maak,” het hy vertel.

• Die Stap vir Bybels aflos vind by die Laerskool Môrewag plaas. Vir meer inligting kontak Hennie Dekker by 0823725823.

Related Articles

Back to top button