Local newsNews

VLU lede berei voor vir kongres

Die dames is druk besig om liefdadigheidsprojekte af te handel vir die Kongres, wat in Augustus plaasvind.

Die Vroue Landbou-unie se jaarlikse kongres vind op 28 en 29 Augustus plaas en lede van die Brakpan-tak is druk besig om voor te berei daarvoor.

As gevolg hiervan sal daar nie in Julie ‘n vergadering wees nie, sodat die lede hul artikels en liefdadigheidsprojekte kan afhandel voor die Augustus vergadering.

Die liefdadigheidsprojekte sluit die insameling van pakkies sanitêre ware, toiletware en onderklere vir behoeftige kinders in.

Charmaine van der Heever, Solidariteit Helpende Hand se Brakpan-tak voorsitter, het tydens Dinsdagoggend se vergadering met die lede gesels oor die rol wat Helpende Hand in die dorp speel en waaraan daar op die oomblik groot behoefte is.


LEES OOK: Kinderhuis benodig warm komberse


‘n Paar opsies is genoem maar die tak het besluit om vir Helpende Hand serpe te maak uit ‘polar fleece’ om te skenk aan ‘n laerskool van die dorp.

Die tak se Nataniël opvoering, wat later vanjaar plaasvind, geniet baie aandag en helfte van die kaartjies is reeds verkoop alvorens dit behoorlik geadverteer is.

Die VLU gaan heel koeke in die snoepie verkoop by die vertoning om sodoende fondse in te samel vir die tak.

Soos gewoonlik bak die lede weer pannekoek by Just Wheels se opedag wat op 30 Junie plaasvind en die wins wat daaruit gemaak word, word aangewend vir die Hef ‘n Kind Op projek.

Hef ‘n Kind Op is ‘n streekswye projek waar elke tak ‘n kind borg vir naskoolse studies vir ‘n jaar.

Related Articles

Back to top button