Local newsNews

Brief: Dirk van der Hoffweg se toestand te wyte aan waterlek

Hierdie leser verduidelik dat die oponthoud nie noodwendig die gaspyp is nie.

Thys Human skryf per epos:

Na aanleiding van die berig in die Herald van 7 Julie (Slegte strook pad is ‘n groot kopseer vir motoriste). Die pad ter sprake is Dirk van der Hoffweg.

Hierdie probleem is meer as ‘n jaar terug gerapporteer, almal praat in sirkels, en daar word geen vordering gemaak nie.

Laat ek eers die korrekte feite noem.

Daar is ‘n waterlek so 50m van die skade in die pad af wat al die probleme veroorsaak. Dit is verkeerd om die reën te blameer.

Hierdie waterlek hou die pad sopnat, al vir meer as ‘n jaar. Dít is wat die skade aan die pad veroorsaak.

Ons praat nie eers van al die water wat vermors word nie. Die heel eerste ding wat gedoen moet word, is om die waterlek te herstel.


LEES OOK: Ouers tree onverantwoordelik op


Almal “volg op” met die kontrakteur wat die pad moet herstel, maar niemand word aangespoor om die waterlek reg te maak nie.

Die beskadigde deel van die pad strek nie oor die Gaskor se pypleiding nie, die pyp loop langs die pad onder die sypaadjie.

Dit is gerieflik om Gaskor te blameer vir die oponthoud, maar ek het my bedenkinge.

Al wat nodig is, is om vir Gaskor op ‘n plan aan te dui waar Ekurhuleni wil werk en Gaskor dui die posisie van sy pyp daarop aan.

Dit kan in twee of drie dae gedoen word, indien iemand dit regtig gedoen wil hê.


LEES OOK: Ma maak hart oop oor kind wat geboelie is


Dit is ‘n roetine proses wat gereeld gedoen word tussen alle belanghebbendes; water, riool, elektrisiteit, poskantoor, Gaskor, Randwaterraad, Eskom, fibre maatskappye en meer, voor enige grouwerk gedoen word.

Dan is dit ook so dat elke diens ‘n voorafbepaalde posisie het waarvan almal weet sodat hulle nie mekaar se lyne beskadig nie.

Ek kan nie die syfers presies onthou nie, maar iets soos water tussen die grenslyn en 600mm van die grens af, elektrisiteit tussen 600mm en 1 200mm van die grens af, poskantoor tussen 1 200mm en 1 800mm van die grens af, en so aan.

Ek glo dit is heel veilig vir die water afdeling om hulle waterlek te herstel sonder dat hulle hoef bang te wees om Gaskor se pyp te beskadig.

Die probleem is dat niemand (‘n enkele persoon met ‘n naam, telefoonnommer en e-pos adres) verantwoordelik gehou word om hierdie situasie op te los nie, en niemand is ook bereid om die verantwoordelikheid self te aanvaar en daadwerklik die nodige te doen om die situasie op te los nie.

Almal tot dusvêr praat in sirkels en blameer iemand anders.



Follow Us: Facebook: Twitter: Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button