Local news

64-Jarige reg vir Comrades

Buks hardloop vanjaar se negende Comrades-maraton.

Jan Saaiman, oftewel Buks, gaan vanjaar sy negende Comrades hardloop.

Buks het op 50-jarige ouderdom besluit om vir die eerste keer aan die Comrades deel te neem nadat ’n vriend hom aangemoedig het.

“Ek het nooit regtig in myself geglo nie en ook nie gedink dat ek kon dit doen nie,” het Buks aan die Herald vertel.

Na ongeveer twee jaar se oefening het hy in 2008 aan sy heel eerste Comrades deelgeneem.

“Dit was ‘n groot skok vir ons om te hoor dat hy op sy ouderdom wil begin hardloop,” het sy dogter Riana van Staden gesê.

Buks woon in Dalview en vertel dat hy ses dae per week in dié omgewing oefen.

Hy draf ongeveer 10km per dag om fiks te bly en oefen sommige dae saam met die Springs Striders groep.

“Ek begin nou stelselmatig korter afstande hardloop om my spiere kans te gee om te herstel voor die groot dag.”

Buks se vinnigste tyd waarin hy dié maraton al gehardloop het is 10 ure en 28 minute en sal glo vanjaar tevrede wees as hy weer onder 11 ure klaar kan maak.

“My mikpunt is om die eerste 45km onder vyf ure te voltooi,” het hy gesê.

“Dan het ek sewe ure om die laaste 45 km af te lê.”

Vanjaar se Comrades-Maraton begin in Pietermaritzburg en dus word dit ’n afdraande wedloop. Buks vertel dat hy egter die opdraande roete verkies omdat dit nie soveel spanning op sy lyf sit nie.

“Elke keer na die maraton sê ek vir my kinders dat dit my laaste keer was, en as ek myself kry dan begin ek solank vir die volgende jaar voor te berei.”

Na maande se voorbereiding het Buks in 2019 ’‘n beroerte gehad. Hy kon dus nie daardie jaar hardloop nie maar het glo die maraton vanuit sy hospitaal bed gekyk. Vanjaar sal sy eerste Comrades wees waaraan hy aan deelneem na sy beroerte. Buks vertel dat die begin van die Maraton onbeskryflik is.

“Ek kan dit vir niemand verduidelik nie hoe dit voel nie. Die einde van die wedren is natuurlik net so ongelooflik.

“Die mense wat jou aanmoedig help jou om deur die pyn te druk en die wedren klaar te maak. Dit is ’n ongelooflike gevoel.”

Buks en sy gesin gaan reeds op 26 Augustus na Pietermaritzburg vertrek.

“Die aand voor die tyd kan ek nie slaap nie, my senuwees is gedaan,” het Buks gesê.

Hy beweer ook dat hy glad nie voor die maraton eet nie omdat hy te gespanne is.

“Ek probeer tydens die wedren bietjie eet, maar anders sal ek na die tyd behoorlik eet.”


LEES OOK: Rand Water to implement planned maintenance


Op die Sondag van die maraton moet die deelnemers reeds 04:00 gereed staan om 04:30 weg te spring.

Tydens die maraton stel Buks vir homself bakens om te bepaal wanneer hy moet loop en wanneer hy moet hardloop.

“Ek praat ook met myself wanneer ek hardloop, dit hou my gedagtes besig en aan die gang.”

Hy vertel ook dat sy positiewe ondersteuningsnetwerk hom baie help om deur te druk.

“Dit verg baie motivering om dit aan te pak, maar as jy dit eers gedoen het, dan wil jy nie ophou nie.”

Related Articles

Back to top button