Local newsNews

Akteur se droom word bewaarheid

Mario het reeds drie groot rolle losgeslaan.

‘n 24-Jarige akteur, wat aan Hoërskool Die Anker gematrikuleer het, se droom is na jare uiteindelik bewaarheid nadat hy drie groot rolle losgeslaan het.

Mario Diederiks se wens om eendag op televisie te verskyn het al op ‘n jong ouderdom begin.

“Dit was nog altyd ‘n doelwit van my om ‘n akteur te word. Ek is mal oor films en is selfs ‘n film versamelaar,” het Mario vertel.

Hy het in 2014 aan Hoërskool Die Anker matrikuleer waar hy naskool as ‘n ketelmaker begin werk het.


LEES OOK: Latest stats reveal Brakpan crime trends


Dit was die ooglopende keuse omdat hy in sy familie se voetspore wou trap deur met sy hande te werk.

Weens onvoorsiene omstandighede het hy egter sy werk verloor en dit is waar sy loopbaan in toneelspel begin het.

Buiten sy toneelspel is hy die eienaar van ‘n werkswinkel waar hy bedags aan voertuie werk.

“Motors is beslis ook ‘n groot passie van my.”

Mario beweer dat hy homself in sy werkswinkel kan besig hou wanneer sy toneel werk stil raak.

Hy het in 2019 sy eerste rol losgeslaan in die Amerikaanse reeks Queen Sono wat op Netflix beskikbaar is.

“Almal was baie aangenaam en het my werklik tuis laat voel op stel. Dit was ‘n wonderlike ervaring.”

Sy tweede groot rol wat hy moes vertolk was vir die film Vlieëkraal wat in 2019 verfilm was.

Hy vertel dat hy aanvanklik gesukkel het met die rol. “Ek moes deurdruk om ‘n sukses daarvan te maak,” het hy gesê.

“Die lekkerste rol wat ek al moes vertolk was beslis in die film De Kleine Griet wat in 2021 verfilm is.”

Hy beskryf die stel van die film as perfek. Hy verwys ook na sy mede akteurs as ‘n groot familie wat hope pret agter die skerms gehad het.

Hy het vroeg in sy loopbaan vir Pierre van Niekerk as sy agent aangestel en beweer dat alles van daar af net in plek geval het.

“Ek is baie gelukkig dat ek die geleentheid het om my drome na te streef. Ek sal baie graag saam met groot name soos Keanu Reeves, Dwayne Johnson en Arnold Vosloo wil werk. Dit sal ‘n groot hoogtepunt in my loopbaan wees,” het hy bygevoeg.

Twee van sy grootste drome is om in ‘n Hollywood film te speel en ‘n toekenning vir sy toneelspel te ontvang.

“Ek wil graag ‘n groot naam vir myself in die bedryf maak om ander te wys dat enigiemand hulle drome kan bereik met harde werk.”

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button