Local newsNews

Hond veg verbete om huismense te beskerm

Die ses-jarige hond, Angel, is twee keer raak geskiet en ook genadeloos deur die rowers geskop en met ’n stok geslaan.

Gewapende huisrowers het verlede Donderdagaand drie skote geskiet op ’n pitbull wat onophoudelik gepoog het om die inwoners van ’n huis in Dalview te beskerm.

Die ses-jarige hond, Angel, is twee keer raak geskiet en ook genadeloos deur die rowers geskop en met ’n stok geslaan.

Danksy die hond se dapper optrede het die rowers die aftog geblaas en met ’n paar items uit die huis gevlug.

“Ons kyk vandag terug na die situasie wat Donderdag afgespeel het en besef maar alte goed dat dinge baie anders kon uitdraai as dit nie vir Angel se brawe optrede was nie,” het ’n 64-jarige inwoner, wat in ’n tuinwoonstel op die erf saam met sy kinders en kleinkinders woon, gesê.

LEES OOK:

 Hond na twee maande met eienaar herenig

Die gesin se name word weerhou.

Volgens hom het Angel selfs nadat sy geskop, geslaan en geskiet is nie vir ’n oomblik opgehou om die drie rowers aan te val nie.

“Sy is beslis ’n heldin,” het die man gesê.

Die gesin se nagmerrie het Donderdagaand ongeveer 6.30nm begin toe drie gewapende rowers toegang tot die erf gekry het deur die gemotoriseerde hek van die spoor af te lig.

Die man het vertel dat hy in die woonstel besig was om kos te maak toe een van die rowers skielik agter hom verskyn het.

“Ek het eers gedink dit is iemand wat Wi-Fi kom installeer, maar toe sien ek die vuurwapen en ek merk nog twee mans by die voordeur, wat nie gesluit was, op.

“Die man by my het my beveel om op die grond te gaan lê, maar ek het besef dat ek dit nie moes doen nie.

“Ek het vir hom gesê ek sou eerder op ’n bankie in die kombuis gaan lê. Ek het die bankie opsetlik hard uitgetrek sodat dit ’n lawaai kon maak, want ek het geweet Angel het in my kamer gelê en slaap.”

Die man se optrede het die gewenste uitwerking gehad, aangesien Angel uit die kamer gestorm het en onmiddellik begin het om die rower, wat in die woonstel was, aan te val.
“Sy het nie regtig gebyt nie, maar sy was baie aggressief en het onophoudelik aangeval.”

In die oomblikke daarna het chaos gevolg toe die man se dogter en skoonseun die rumoer gehoor het en gaan kyk het wat fout was.

“Ons het onsself in die rowers vasgeloop en my pa was op dié stadium so half by die deur uit en Angel het steeds tekere gegaan,” het die dogter (42) gesê.

“My man (40) is beveel om ons voordeur oop te sluit en gedreig dat hy sou geskiet word toe hy dit nie vinnig genoeg gedoen het nie.”

Die egpaar se tienerseun (17) en -dogter (16) wat in die hoofhuis was, is toe ook aangehou.

In die harwar het die rowers drie skote op Angel, wat steeds probeer het om haar mense te beskerm, afgevuur.

Een skoot het haar rakelings getref en die ander een is reg deur haar voorlyf.
Die derde skoot was mis.

“Die hele ondervinding het soos ’n ewigheid gevoel, maar dit was inderdaad binne minute verby en nadat die rowers my pa se skootrekenaar gegryp het asook my skootrekenaar en my man se beursie en selfoon het hulle op die vlug geslaan,” het die vrou verduidelik.

’n Vierde rower het buite in ’n silwer Audi gewag.

“Nadat die rowers weg is, het ons begin rondbel om vir Angel by ’n veearts te kry.

“Personeel van die DBV het ook opgedaag en hulle ondersteuning en diens was puik,” het die man gesê.

Angel is deur ’n veearts ondersoek en het die volgende dag die nodige prosedure om haar beserings te behandel, ondergaan.

“Die koeël wat haar lyf getref het, is regdeur en die ander skoot het haar skrams teen die kop getref.

Met die Herald se besoek aan die gesin Maandag het Angel nog met moeite beweeg, maar was dit duidelik dat sy op die herstelpad was.

“Die veearts het aan ons verduidelik dat die skoppe en houe wat sy toegedien is ook tot haar beserings gelei het,” het die dogter gesê.

Die man het vertel: “Sy is heel te verstane nog knorrig en sy verlaat my sy nie vir ’n oomblik nie.

LEES OOK:

Lid van honde-eenheid oorlede

“Sy is veral in die nag onrustig.

“Angel, wat as ’n babahondjie deur haar ma verwerp is, het ook net een oog as gevolg van ’n geboorte defek.

“Ons het haar ses jaar gelede, toe haar ma haar verwerp het, gered.

“Dit is al asof sy Donderdagaand vir ons dankie gesê het daarvoor.”

Die voorval word deur die Brakpan SAPD ondersoek.

Have a story?

Contact the newsroom by emailing: Thelma Koorts  (editor) brakpanherald@caxton.co.za or Stacy Slatter (news editor) stacys@caxton.co.za

Remember to visit the Brakpan Herald on the following social media platforms:

 Follow us:

    

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button