Local newsNews

Kind (5) val in oop mangat

‘n Vyf-jarige kind het Saterdag in ‘n mangat, waarvan die deksel gesteel is, geval en seergekry.

Die Herald het onlangs oor mangate berig wat oral in die dorp oop staan, weens die feit dat diewe die metaal deksels steel en verkoop.

Juan-Pierre Venter het Saterdag saam met sy oupa, Pieter Venter (49), na vriende gestap, toe hy op die hoek van Hyland- en Wendelaan in die oop mangat val.

“Juan-Pierre het so ‘n entjie agter my geloop en die volgende oomblik het ek ‘n gil gehoor,” het Pieter gesê.

“Ek het self eers nie die gat gesien nie, en het dadelik ingeklim om Juan-Pierre uit te kry,” het hy gesê.

“Die gat is so 1,5m tot 2m diep en Juan-Pierre het erge skraapmerke aan sy lyf opgedoen.

“Dit kon soveel erger gewees het en dit is heeltamal onaanvaarbaar dat mense aan sulke gevaar blootgestel word.”

Die seun is na die voorval na ‘n hospitaal geneem, om seker te maak dat hy nie ander beserings opgedoen het nie.

‘n Inwoner wat naby woon het foto’s van die oop mangat en die kind se beserings geneem.

Volgens hom is die voorval Saterdag onder die aandag van die Ekurhuleni Metro gebring, maar, teen Dinsdag, was die mangat steeds sonder ‘n deksel.

Die Herald het die metro vir kommentaar gevra en sal dit publiseer sodra dit onvang word.

Related Articles

Back to top button