Editor's choiceLocal newsNews

Kanker-oorwinnaar voltooi virtuele Comrades-marathon

Janita was vas beslote om die wedloop te voltooi.

Miné Fourie minev@caxton.co.za

Die gewilde Comrades-marathon is vanjaar weens die wêreldwye Covid-19 Pandemie gekanselleer, maar dit kon nie verhoed dat ‘n vasberade atleet, Janita Wessels (29), die uitmergelende marathon nie aangepak het nie.

Janita, ‘n inwoner van die dorp, het met haar wedloop begin by die Vaaldam-brug in Deneysville en het die volle 90km voltooi tot in Brakpan in ‘n tyd van 13ure, 12 minute en 40 sekondes.

“Ek wou dit graag onder 12ure klaar gemaak het, maar dit was net nie moontlik nie. Daar was ook soveel ondersteuning van my vriende en familie, wat my genoodsaak het om my wedloop meer te onderbreek,” het sy gesê.

Janita het van kleins af gedroom van haar eerste Comrades en het vir haarself ‘n mylpaal gestel om dit te doen voor sy 30 jaar oud word.

“Toe ek hoor dit is gekanselleer, het ek besluit om dit maar self aan te pak,” het dié vasbeslote atleet vertel.

Lees: Dominee ry 95 keer om die kerk met sy fiets

Sy is in 2018 gediagnoseer met borskanker en volgens haar het dit haar meer motivering gegee om die Comrades-marathon van haar ‘bucket list’ af te tiek.

“Ek het die groot ‘C’ oorwin en is tans in remissie. Ek het net besluit as mens so iets kan oorwin, is dit moontlik om enigiets in die lewe te bereik , al is dit hoe moeilik.”

Janita het verlede jaar Augustus besluit om te begin oefen, alhoewel sy al hardloop vanaf sewejarige ouderdom.

“Weens die Covid-19 Pandemie was dit maar bietjie moeilik om te oefen, maar ek het wel ‘n ‘treadmill’ gehad wat my aan die gang gehou het,” vertel sy.

Janita het ook verduidelik dat dit belangrik is om jou mentaliteit reg te kry voordat jy so iets aan pak.

“As my mentaliteit nie reg was nie, sou ek al lankal opgegee het. My liggaam wou op ‘n stadium nie meer aan gaan nie, maar weens my kop wat reg was, het ek deurgedruk.”

Janita is opgewonde om volgende jaar weer in te skryf en dié keer die ‘regte’ Comrades klaar te maak.

Die jong vrou, wat ook ‘n ma is, is dankbaar vir haar familie en vriende wat haar bygestaan het deur die hele proses.

Janita Wessels se dogtertjie, Kimané (3) het haar ma met die kleurvolle plakkaat aangemoedig.

“My man, Juan-Pierre (29) en my kind, Kimané (3) is beslis my nommer een aanhangers,” het sy vertel.

“Om vroeg op te staan, was nie altyd maklik nie, maar gelukkig was my ouers en skoonouers altyd bereid om te help waar hulle kon, wat oefening vir my maklik gemaak het.”

Daar het ook soveel voorbereiding en beplanning in die spesiale dag van Janita ingegaan.

“My man en skoonpa, Johan Wessels (59) het padkaarte geteken van waar ek moes begin, hoeveel waterpunte daar moes wees en tot wanneer ek moes stop,” het sy vertel.

Juan-Pierre Wessels (29) was deurentyd aan sy vrou se sy om die nodige ondersteuning te bied.

“Juan-Pierre het seker gemaak dat alles vlot verloop en het selfs sy vriende se hulp gevra om agter my aan te ry.”

“Daar was soveel ondersteuning op en dit is beslis ‘n ondervinding wat ek nooit sal vergeet nie.”

“Ek is ook vreeslik dankbaar vir my pa, Jan Muller (58) wat 60km langs my gery het met sy fiets.”

“Ek kan nie genoeg dankie sê vir almal se ondersteuning nie.”

Die 95ste Comrades sou vanjaar van Pietermaritzburg na Durban gehardloop gewees het.

Die inskrywings vir die wedloop het ingestroom en atlete van 86 lande het vanjaar virtueel deelgeneem.

Die atlete het 24 uur gekry om die verskillende afstande in enige plek in die wêreld te hardloop.

Daar was opsies van 5 km, 10 km, 21,1 km, 45 km en 90 km om van te kies.

Meer foto’s:

Janita bereik haar mylpaal en voltooi 90km virtuele comrades-marathon

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Joernalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

Related Articles

Back to top button