Editor's choiceLocal newsNews

Geen banghaar op Jayten se kop nie

Dit verg taktiek en vernuf van beide persone op die motorfiets om, om ’n draai te kom.

’n Jong inwoner van die dorp, Jayten Datnow (12), is besig om vinnig opgang te maak in ’n sportsoort wat dalk nie meer so bekend is nie, maar wat beslis die adrenalien baie vinnig laat pomp.

Dié jong waaghals het in Januarie vanjaar begin om aan syspan motorfietswedrenne deel te neem en is besig om met elke deelname meer en meer te beïndruk.

Kyk:

Sy vordering is inteendeel so merkwaardig dat sy pa, Jason (44), wat ook aan die sportsoort deelneem, deesdae moet uithaal en wys om nie deur sy seun geklop te word nie.

Jayten se belangstelling in die sport het gekom van sy oupa, Bertie van Sittert (56), se passie daarvoor. Van Sittert is verlede jaar oorlede.

Dat dit ’n sportsoort is wat baie veeleisend en gevaarlik is, is ’n feit, maar Jayten en sy pa, tussen wie daar ’n baie hegte band is, is deeglik bewus daarvan.

Die motorfietse het net drie wiele en kan slegs regs draai met die hulp van ’n jokkie wat agter die bestuurder sit.

Daar is ook geen remme nie.

Jayten Datnow op sy syspan motorfiets. Sommige van die trofeë wat hy die afgelope jaar ontvang het, is ook te sien.

Alhoewel die bestuurder van die motorfiets volle beheer oor die fiets het, vertolk die jokkie ’n uiters belangrike rol.

Jayten en sy huidige jokkie, Carl Nelson (22), ry nou al vir ses maande saam.

Jason, wat sy seun ten volle ondersteun, verduidelik dat die jokkie die bestuuder te alle tye moet kan lees en dat die bestuurder die jokkie 100 persent moet vertrou.

“Dit verg taktiek en vernuf van beide persone op die motorfiets om, om ’n draai te kom en die motorfiets te alle tye te beheer,” het Jason verduidelik.

Lees ook: Motorfietsklub sorg dat bejaardes heerlik kuier

Die jokkie beheer die motorfiets deur in ’n draai af te gly en dus met sy gewig te veroorsaak dat die motorfiets draai.

Alhoewel Jayten die jongste syspan motorfietsryer in Suid-Afrika is, is elke wedren vir hom ’n uitdaging om net beter te presteer.

“Ek en Carl is ’n goeie span en al is hy veel ouer as ek, vertrou ons mekaar en werk ons goed saam,” het Jayten gesê.

Hy en sy pa is gereeld op bane in Randfontein, Rustenburg, Kroonstad, Bloemfontein en Boshoff in aksie en Jayten het die afgelope jaar verskeie toekennings ingepalm.

Carl Nelson en Jayten Datnow is ’n gedugte span. Foto: Theunis Coetzee

“Ek geniet dit regtig baie, en dit is vir my lekker dat my pa die sport saam met my doen,” het Jayten, wat ’n leerder aan die Sonneveld Akademie is, gesê.

Sy ouer broer, Jarin (14), het ander belangstellings, maar is gereeld saam met hul ma, Karin (39), langs die baan.

“My vrou raak maar soos enige ma senuweeagtig langs die baan, maar sy ondersteun ons ten volle,” het Jason gesê.

Jayten geniet dit ook om rugby te speel en raak rustig wanneer hy voor ’n skaakbord inskuif.

Meer foto’s: Jayten Datnow is gereeld in aksie op die baan

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts  (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

 For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button