Editor's choiceLocal newsNews

In die Kollig: Leer hier vir Madelaine Pienaar ken

Madelaine Pienaar van die Akker Rakker Kleuterskool is in die kollig.

Madelaine Pienaar (42) is die eienaar van die Akker Rakker Kleuterskool. Sy woon saam met haar drie seuns Raynand (16), Xander (14) en Jacques (12) in Rand Collieries.

Jy is die eienaar van die Akker Rakker Kleuterskool. Hoe lank bestaan die kleuterskool al?

Ons het op 1 Junie 2016 ons deure oopgemaak en toe was daar geen maatjies nie. Op 1 Julie 2016 het ons met een maatjie begin.

Wat het jou laat besluit om jou eie kleuterskool op die been te bring?

Dit was nog altyd ’n groot droom van my. Ek het my onderwysdiploma in junior en pre-primêre onderrig by die onderwyskollege in Pretoria gekry. Ek het by Van Dyk Park Pre-primêr begin skoolhou. Tannie Alta van Wyk, wat die skoolhoof daar was, is steeds vandag ’n groot mentor vir my. Ek het net geweet daar is altyd ’n aanvraag vir ’n kleuterskool waar ’n mamma gerus voel om haar kind te los, en waar die kinders optimaal ontwikkel kan word. Dan moet ek ook byvoeg dat hier baie goeie kleuterskole in Brakpan is, maar dit het my ook nie afgesit nie, want gesonde kompetisie is altyd welkom. Dit help net dat almal die beste doen wat hulle kan.

Om verantwoordelikheid vir ander mense se kinders te neem is ’n reuse taak. Wat is die grootste uitdaging?

Dit is ’n geweldige groot taak en dis ook een wat ek nie ligtelik opneem nie. Die kleuters is die grootste deel van hulle dag in ons sorg. Ek dink die grootste uitdaging is om te keer dat die maats byt. Byt is ’n geweldige moeilike ding, veral by die kleintjies van een tot drie jaar. Geen ouer wil hê hulle kind moet byt of gebyt word nie. En dan is dit ’n moeilike ding vir ’n ouer om te verstaan as hulle kind gebyt is. Ons probeer ook om daardie maatjies strenger te monitor en om hulle uit ’n situasie te verwyder voordat dit op ’n gebyt uitloop.

Hoe beïnvloed tegnologie die opvoeding van kinders vandag?

Tegnologie beïnvloed definitief ons kinders se opvoeding. Kinders wat nog nie eers ’n woord kan sê nie weet al om daardie vingertjie oor die skerm te “swipe”. Dit kan kinders ook positief beïnvloed, want mens kan soveel dinge baie meer interessant en lekker maak vir kinders met behulp van tegnologie. Maar ek dink dis belangrik om tegnologie te beperk.

Speel vandag se kinders nog genoeg?

Nee! Kinders speel nie genoeg nie. Ek dink dit is as gevolg van verskillende faktore, soos te min plek, te min tyd en veiligheid.

Watter seisoen is jou gunsteling en waarom?

Somer, want dan is dit see, son en kwaliteit familie tyd.

Hoe lank woon jy al in Brakpan en wat vind jy uniek van die dorp?

My hele lewe. Die mense van Brakpan sal uit hul pad gaan om ander te help.

Wat sou jy graag omtrent die dorp wou verander?

Net ’n skoner dorp waar al die morsjorse sal leer om agter hulself skoon te maak. As elkeen net die verantwoordelikheid vat vir hulle eie gemors sal dit al die helfte beter lyk.

Het jy enige stokperdjies?

Ja, ek verf graag olieverf skilderye, maar daar is nou min tyd daarvoor. Ek lees baie graag en naas my Bybel is my Kindle een van my besittings waarsonder ek nie sommer êrens heen gaan nie. Dan het ek nou onlangs weer begin “keyboard”- lesse neem. Ek wil net weer bietjie die klaviervaardigheid opskerp en dan kan ek dit hier in die kleuterskool gebruik.

Waar sien jy jouself oor 10 jaar?

Oor 10 jaar sal ek steeds die klein maatjies geniet maar teen dan sal ek hopelik nie meer so wild agter my eie kinders rondjaag nie. Maar ek sien myself verseker oor tien jaar nog net hier.

Indien jy die geleentheid kry, sou jy die land permanent verlaat?

Nooit, ek sal net hier bly. Ek weet daar is baie mense wat negatief is oor alles wat hier in ons land aangaan. Maar ek weet die Here bly in beheer. Hy het elkeen van ons met ’n doel hier geplaas om ’n verskil te maak hier waar ons is. Ek weet ek is op die regte plek.

Beskryf jouself in vyf woorde.

Dis nou moeilik om te doen. My bynaam as kind was Madie, so ek doen dit volgens die naam. M: mededeelsaam, A: aktief, D: dinamies, I: introvert, E: empaties.

Lees: Akker Rakkers laat waai op die veld

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button