Editor's choiceLocal newsNews

Kreatiewe Afrikaanse kompetisie vir leerders en studente

Dis nou jou kans om met ’n pen, kamera of skilderkwas in jou hand jou kreatiewe denke in te span om dít uit te beeld.

Hoe sien jy groei?

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Internasionale Afrikaans-Ekspo is ’n opwindende skryf- en kreatiewe kunstekompetisie wat fokus op leerders en studente se kreatiewe hantering van Afrikaans.

Tesame met die feit dat dit pret is om deel te neem, word leerders ook gehelp met hulle skryfproses deurdat hulle terugvoer van die beoordelaars kry.

Vanjaar se tema is groei (met taal, kultuur en geskiedenis as riglyn).

Lees: Die Laerskool Dalview is trots op oud-leerders wat leiers is

Wanneer daar van groei gepraat word, is dit sinoniem met Afrikaans. Dink maar oor hoe Afrikaans oor die jare heen sterker en groter geword het met nuutskeppings, idiome, liedjies en nog meer.

Dan is daar skrywers, digters en kunstenaars wat baanbrekerswerk vir die taal verrig het.

Die FAK is ook vanjaar 90 jaar oud en dien as ’n voorbeeld van ’n kultuurorganisasie wat daagliks bydra tot die groei van die Afrikaanse taal en kultuur.

Groei kan ook direk verband hou met hoe jy grootgeword het of selfs die plantegroei, dus is die uitdaging om met vanjaar se tema kreatief te dink en jou pen of verfkwas te laat vloei met kleurvolle stories, kuns of foto’s.

Alle inskrywings moet teen 12 Julie 2019 ingehandig wees. Geen laat inskrywings sal aanvaar word nie en inskrywing is gratis.

Die wenskool ontvang R10 000 wat volgens ’n formule bepaal sal word. Die wenner self ontvang die wisseltrofee en R1 000. ’n Verdere R4 000 kontant word vir sy of haar skool gegee.

Daar is sewe kategorieë waarin jy jou kreatiwiteit kan uitleef. Dit sluit in dagboekinskrywings, resensies, opstelle, kortverhale, poësie, fotografie en skilderkuns.

Leerders en studente wat vir die kompetisie wil inskryf, kan aanlyn hul inskrywings by ekspo.fak.org.za voltooi.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

Related Articles

Back to top button