Editor's choiceLocal newsNews

Dis hoe dit gaan met tweeling wat twee jaar gelede byna verdrink het

Met die oulike rooikop tweeling gaan dit goed.

‘n Toneel wat homself die afgelope jare oor en oor herhaal, het Maandagoggend weer in die Stoffberg duikweg afgespeel, toe die bestuurder van ‘n minibus uit ‘n watermassa gered moes word.

Lees: Video: Minibusbestuurder uit watermassa in duikweg gered

Die duikweg het oudergewoonte binne minute opgevul met water nadat ‘n hewige storm net voor 6vm oor die dorp uitgesak het.

Dié reddingspoging was nie die eerste nie en daar word al vir jare vrae gevra oor die dreineringstelsel in die duikweg en ‘n permanente oplossing vir die probleem.

Ten spyte van die feit dat motoriste se lewens in gevaar gestel word, word die verkeer ernstig ontwrig wanneer die duikweg telkens ontoeganklik raak na ‘n hewige reënbui.

Op 7 Februarie verlede jaar moes twee voertuie net na 7nm uit die duikweg gesleep word, toe dit na ‘n reënbui in die water beland het. Niemand is beseer nie maar die skade aan die voertuie was groot.

Lees: Kolkende watermassa in duikweg veroorsaak weer chaos

Op 23 Maart, ook verlede jaar, het ‘n minibus ook in die moeilikheid beland en moes dit ook uitgesleep word.

Dan was daar die voorval in 2017 waar ‘n agt-maande oue tweeling en hul ouers byna verdrink het.

Dié voorval het nou wel in die Voortrekker duikweg plaasgevind maar was ook as gevolg van water wat vinnig opgedam het na ‘n hewige storm.

Die Herald het destyds berig hoe die kinders se pa, Jeff Bekker (36)  verbete in yskoue water moes vasklou aan die kinders.

Lees ook: Pa klou verbete vas aan sy tweeling (agt maande) in yskoue water

Sy vrou Erika (33) was vasgekeer in hul voertuig en hy was magteloos om haar te help.

Die egpaar was op 13 Februarie 2017 op pad na hul huis, toe hul Polo in die kolkende watermassa in die duikweg beland het.

Jeff kon daarin slaag om sy venster oop te draai en Erika het dadelik gepoog om vir Caleb en Liam uit hul karstoeltjies te kry.

Die pa kon dit reg kry om die kinders uit die kar te kry en het beide in sy arms vasgeklou terwyl hy gespook het om self bo die water te bly.

Erika het later daarin geslaag om uit die kar te kom. ‘n Kabel is na Jeff en die kinders laat sak en kon sy kinders na veiligheid bring.

Die Herald het na aanleiding van Maandagoggend se gebeure gaan uitvind hoe dit, na twee jaar, met die tweeling en hul ouers gaan.

Erika het gesê dat die voorval haar altyd sal bybly.

“Ek is steeds baie bang vir die weer en ek glo nie ek sal ooit weer deur ‘n duikweg ry al reën dit net effens nie,” het sy gesê.

Met die oulike rooikop tweeling gaan dit goed. Hulle is nou twee jaar en ses maande oud en soos seuntjies van hul ouderdom,  hou hulle hul ma baie besig.

“Liam was vir ‘n tyd na die voorval skrikkerig vir water. Hy was skrikkerig om te bad en  het nie daarvan gehou as daar water in sy gesig kom nie maar hy het oor dit gekom,” het Erika vertel.

“Elke keer as ek hoor dat een van die duikweë vol water is, kan ek maar net hoop dat daar ‘n daadwerklike plan gemaak sal word om vir eens en vir altyd ‘n oplossing te vind,” het sy gesê.

  • Die Herald het die Ekurhuleni Metro gevra om kommentaar te lewer oor die situasie. Sodra dit ontvang word sal dit gepubliseer word.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter 

Related Articles

Back to top button