Local newsNews

In die kollig: Leer die mense in jou dorp ken

Naomi Mostert is in die kollig die week.

Naomi Mostert (58) is die afgelope jaar werksaam by Tutela Gesinsorg/Family Care, Brakpan, en voor dit het sy 14 jaar vir Rata Maatskaplike Dienste (voorheen Die Ondersteuningsraad) gewerk. Sy is getroud met Mossie en hulle het vier kinders, Adél (35), Nadia (34), Tomwill (32) en Jaco (31), asook sewe kleinkinders waarvan drie in Nederland woon. Die egpaar woon in Brakpan-sentraal.

Wat behels jou pligte by Tutela?

Ek koördineer die administratiewe funksionering van Tutela.

Wat bied Tutela aan die gemeenskap?

Die kantoor fokus om voorkommingsdienste aan kliënte te lewer, asook statutêre dienste, gemeenskapsontwikkeling, groepwerk en bewusmakingsprojekte. Ons fokus ook op ’n voedingsprojek by plaaslike skole in samewerking met Outreach Unlimited.

Wat is die struikelblokke waarmee die organisasie te make het?

Finansies en voedsel tekort. Heelwat van ons kliënte moet van kospakkies voorsien word. Ons merk dat almal in die gemeenskap dit al hoe moeiliker vind om te oorleef en daarom het die skenkings by die kantoor ongelooflik baie afgeneem. Ons ondervind ook dat die kantoor op gereelde basis deurloop deur vandale wat ons eiendom beskadig. ’n Voorbeeld hiervan is dat die battery van die elektroniese hek by ons kantoor reeds twee keer gesteel is. Op die oomblik is ons hek buitewerking, na ’n voorval waar die hekmotor gesteel is en die bedrading beskadig is.

Is jy van mening dat dit al hoe moeiliker raak vir mense om kop bo water te hou?

Ja beslis. In die tipe werk wat die kantoor lewer is dit hartseer om te sien hoe ons mense verarm en werklik swaar kry. Sommige kere raak ek mismoedig wanneer kliënte weggewys moet word, veral as daar geen voedsel in die kantoor beskikbaar is nie en daar kinders in die gesin is.

Maak jou tipe werk jou nie neerslagtig nie?

Nee, want ek het geleer daar is so baie waarvoor ek nog elke dag dankbaar moet wees. Reeds vanaf 2002, toe ek by Rata Maatskaplike Dienste begin werk het, het ek besef hoe groot die Hemelse Vader is. Ek dank Hom elke dag vir Sy genade, want so maklik kon dit ek gewees wat in ons kliënte se posisie was. Ek streef altyd daarna om ons kliënte met die nodige respek en eerbied te behandel en almal is vir my dieselfde, ongeag wie voor my staan.

Het jy ’n stokperdjie of spesifieke belangstelling?

Ek hou van bak en brou. My gesin, asook familie, hou van lekker kos en daarom is dit vir my ’n groot voorreg om hulle te kan bederf met ’n smaaklike ete. Ek hou van lees en vergeet soms van tyd as ek besig is met naaldwerk.

Wat sal ’n mens altyd in jou handsak vind?

Moeilike vraag. Altyd ’n geldjie vir iemand wat dit nodig het, parfuum en sneesdoekies.

As jy enige vyf mense kan nooi vir aandete, wie sou dit wees en hoekom?

Die Pous, die president van Amerika, die koningin van Engeland, die president van Suid-Afika en Steve Hofmeyr. Indien hierdie persone saam van my Boerekos kan eet sal baie probleme opgelos word.

Wat is jou gunsteling gereg?

Beesstertpot.

Waar hou jy graag vakansie?

Tans in Nederland aangesien my dogter, Nadia, en haar gesin daar woon.

Wat maak jou onmiddellik briesend?

As iemand ’n U-draai in die hoofstraat maak.

Wat sal jou laat glimlag?

Wanneer ek terugdink aan sommige verhale van ons kliënte.

Jy moet ’n sagte plekkie vir Brakpan en sy mense hê. Wat maak die dorp spesiaal?

Ek is in Brakpan gebore. Eenmaal ’n Brakpanner, altyd ’n Brakpanner. Net soos die Leeus rugbyspan in my bloed is.

Waar sien jy jouself oor vyf jaar?

Hopelik ses maande van die jaar in Nederland.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button