Editor's choiceLocal newsNews

Skoorsoeker slaan man met vuis in die gesig

Riaan is na ’n hospitaal geneem om ’n mediese verslag te bekom.

’n 40-Jarige man van Brakpan-sentraal is Maandagmiddag deur twee mans, wat hom glo gereeld treiter, in so ’n mate aangerand dat ’n saak by die Brakpan SAPD aangemeld is.

Riaan Green, wat ’n voormalige leerder van Felicitas Skool is, ry gereeld op sy fiets rond en hy is bekend daarvoor dat hy vis, wat hy vang, aan mense verkoop.

Volgens sy ma Annatjie, by wie hy woon, word Riaan al vir ’n geruime tyd deur twee mans, wat naby die Brakpan Dam woon, verpes.

“Hulle beledig hom en wanneer hulle hom sien laat hulle hom nie met rus nie,” het Annatjie vertel.

Volgens Riaan het die mans hom voorheen ook met klippe gegooi.

Hy was Maandagmiddag om ongeveer 1nm in Abercornlaan toe sy pad weer met dié van die mans kruis.

“Hulle het ’n vieslike opmerking teenoor my gemaak. Op dié stadium was ek nie op my fiets nie. Ek het dit gestoot en weg van hulle af beweeg.

“Die volgende oomblik het een van hulle my van agter af ingehaal en het ’n harde vuishou my teen die oog getref,” het Riaan vertel.

Lees ook: Ma maak hart oop oor kind wat geboelie is

“Toe hy by die huis aankom was hy verward en bloed het oor sy gesig gestroom,” het Annatjie vertel.

“Ek het eers gedink dat hy in ’n ongeluk was of dat iemand sy fiets gesteel het.”

Nadat sy gehoor het wat gebeur het, het sy die wond aan sy oog skoongemaak en haar seun na die polisiestasie geneem, waar ’n saak van aanranding geopen is.

“Hierdie twee mense dink dat my seun ’n kind is en dat hulle hom kan treiter soos hulle wil. Dit is bitter onregverdig teenoor hom,” het sy gesê.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

 

Related Articles

Back to top button