Editor's noteNewsSchools

Help ’n behoeftige leerder só

Die skool beplan ’n kultuuraand met ’n Hollywood-tema ter verstuiwing van fondse wat aangewend word om sekere leerders van die skool te ondersteun.

Al ooit gewonder hoe jy ’n verskil kan maak in die lewe van ’n leerder wie se ouers sukkel om kop bo water te hou?

Dan is die enigste plek waar jy op 2 Augustus moet wees by Hoërskool Die Anker.

“Armoede is ’n woord wat deesdae maklik van ons lippe afrol en almal voel die finansiële druk waaronder ons land gebuk gaan,” het die organiseerder, Hannelie van der Vyver, gesê.

“Sowat drie jaar gelede het dit onder my aandag gekom dat daar wel leerders is wat die skool verlaat, bloot net omdat hul ouers dit nie meer kan bekostig om hulle op skool te hou nie.

“Almal wat kinders op skool het weet wat die uitgawes beloop. Daar is skoolgelde, handboekgelde, sentrumfooie, boekpakkette, skryfbehoeftes, ’n skooltas, skoolklere, -skoene, aktiwiteitsklere en sportdrag, om nie eers van sporttoere en uitstappies te praat nie.

“My vraag was hoe kan ons ’n verskil maak. Hoe ons kon seker maak dat elke kind die geleentheid kan kry om sy of haar skoolloopbaan te voltooi.

Lees ook: Morries skenk aan behoeftiges

“Ek het met die skoolhoof, Johan Snyman, oor hierdie swaar las gaan praat en ons het besluit om hande te vat en jaarliks ’n projek aan te pak om ons Anker maats te help,” het Van der Vyver verduidelik.

“Die skool en die beheerliggaam buig wel agteroor om ons Ankers te akkommodeer. Daar is onder andere voedingskemas en beurse wat help, maar die nood is groter,” het Van der Vyver bygevoeg.

“Die ‘Anker gee om’-projek fokus daarop om toe te sien dat al ons Anker maats met waardigheid hul skooljare kan geniet.

“Ons het in die verlede reeds aan 30 Ankers skooltasse, skryfbehoeftes, skoolskoene en ander benodighede voorsien.”

Die geleentheid op 2 Augustus is in die vorm van ’n kultuuraand waartydens die leerders hul talente inspan om die gaste te vermaak.

Leerders van die skool se hotelskool gaan ook sorg dat die gaste ’n smaaklike ete geniet.

Kaartjies is reeds beskikbaar en kan bekom word deur vir Van der Vyver by 084 645 8183, Elmarie Warnick of Drieka Botha, tydens skoolure, by 011 813 4160 te kontak.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button