Local newsNews

Nellie Petzer is in die kollig

Leer vir Nellie Petzer, die administratiewe beampte by die Ebenhaeser Tehuis, ken.

Nellie Petzer, ’n inwoner van Brakpan-sentraal is die administratiewe beampte by die Ebenhaeser Tehuis vir bejaardes. Sy werk reeds vir die afgelope 23 by die tehuis. Sy het twee volwasse kinders en ses kleinkinders.

• Hoe lyk ’n tipiese werksdag vir jou?

Ek behartig die ontvangs en ek is ook verantwoordelik vir die opnames van nuwe inwoners. Eintlik doen ek maar so iets van alles want ek hou nie daarvan oom heeldag in die kantoor te sit nie. Ek doen ook ’n bietjie berading. Dit is vir my lekker om met die inwoners te gesels en te help waar ek kan.

• Dink jy daar is genoeg plekke in die land vir die versorging van bejaardes?

Ek glo daar is. Dit is net belangrik dat die plekke reg bestuur word. Daar is egter baie beslis ’n tekortkoming wanneer dit by die versorging van Alzheimer pasiënte kom. Baie tehuise het nie ’n spesifieke afdeling waar mense met Alzheimer versorg kan word nie.

• Jy vorm sekerlik ’n hegte band met die inwoners van die tehuis, hoe hanteer jy dit wanneer iemand te sterwe kom?

Aan die begin was dit vir my bitter moeilik elke keer wanneer een van ons inwoners gesterf het. Ek het mettertyd geleer om dit op my manier te verwerk sonder om myself elke keer in ’n toestand te kry. Ons is soos een groot familie, so dit bly maar moeilik.

• Sal jy aanhou om die werk te doen?

Beslis, ek gaan seker hier werk totdat ek eendag self ’n inwoner is.

• Wat doen jy graag in jou vrye tyd?

Ek hou daarvan om te skilder en ek is tans besig om ’n boek te skryf. Uit my jare lange ondervinding het ek besef dat mense ingelig moet word oor die oorgangsproses van ’n onafhanklike lewe en ’n lewe in ’n versorgingsoord of ouetehuis. Dit is ’n massiewe aanpassing vir enige mens en ek voel dat daar nie genoegsame inligting beskikbaar is nie. Ek hoop dat die boek wat ek skryf vir mense sal help om hulself beter toe te rus vir wat wag. Ek het deur die jare soveel ondervinding en kennis opgedoen dat dit vir my net reg voel om dit te doen.

• Wat is jou gunsteling gereg?

Ek is mal oor ’n varktjoppie. Daarvoor sal ek nooit nee sê nie.

• Wat sal ’n mens altyd in jou handsak kry?

Ai, sigarette en ’n Grandpa-poeier. Slegte gewoonte, maar ek kan nie daarsonder nie.

• Waar sal jou gunsteling vakansieplek wees?

Ek is ’n buitemens. ’n Vakansie in die bosveld is ideaal vir my.

Lees ook: Bejaardes word bederf

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Related Articles

Back to top button