CrimeEditor's noteNews

Aanvaller kap man herhaaldelik met panga

Waarskuwing: Foto’s onderaan die berig kan sensitiewe lesers ontstel.

‘n 27-Jarige inwoner van Brenthurst is Woensdagaand deur twee mans oorval en herhaaldelik met ‘n panga gekap, toe hy die honde by sy ouerhuis wou gaan kos gee het.

Wayne Robertson het verskeie wonde aan sy kop, skouer en rug en arm opgedoen maar kon gelukkig daarin slaag om sy aanvallers die skrik op die lyf te jaag.

Volgens Robertson het hy Woensdagaand ongeveer 8.40nm na sy ouerhuis te Duncanstraat, Brenthurst gegaan om die honde kos te gee. Robertson en sy gesin woon ook in Duncanstraat, slegs ‘n paar huise van sy ouerhuis af.

“Die honde het ‘n bietjie vreemd opgetree maar ek het nie veel ag daarop geslaan nie,” het Robertson vertel.

Sy aanvallers moes reeds in die erf gewees het en die oomblik toe Robertson omdraai met die sak hondekos in sy hande het die eerste kaphou hom getref.

Lees ook: Diewe gee honde gif voordat hulle motorfiets steel

“Ek het twee mans gesien. Die een het ‘n panga gehad en het aanhoudend na my gekap. Die ander een het ‘n mes gehad.”

Wayne Robertson het verskeie wonde opgedoen.

Robertson was op ‘n stadium op sy knieë en het hard geskreeu toe hy sien dat die man, met die panga, sy hand hoog oplig om weer na hom te kap.

“Dit moes die mans afgeskrik het want beide het op die vlug geslaan en oor die agtermuur gespring om weg te kom.”

Robertson kon daarin slaag om by sy huis uit te kom waarna ‘n ambulans ontbied is.

Hy het behandeling ontvang vir verskeie wonde wat hy opgedoen het.

Volgens hom was dit nie die eerste voorval by sy ouerhuis nie.

“My pa, David Roberson (55) het gedurende Desember ‘n soortgelyke voorval beleef toe hy ook by die huis deur ‘n man met ‘n panga aangeval is”

Die voorval word deur die SAPD ondersoek.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Related Articles

Back to top button