BlogsOpinion

In die Kollig: Leer Brakpan se mense ken

Mieke Dippenaar (12) is vanjaar die hoofdogter van die Laerskool Dalview. Sy woon saam met haar ouers, Johan en Ora Dippenaar en ouer sussie Juneen (16) in Brenthurst.

• Jy is vanjaar die hoofdogter van die Laerskool Dalview. Wat was die eerste gedagte wat deur jou kop gegaan het toe jou naam uitgelees is?

Ek was eers verward en toe verbaas. Daarna was ek vreeslik gelukkig want ek dink tog elkeen wens diep in sy/haar hart om ’n hoofleier te wees. Dit was ’n ongelooflike emosionele oomblik.

• Jy moes nou al vir ’n paar weke op jou pos wees? Wat is jou pligte as hoofdogter van die skool?

Daar is verskeie take om te doen, soos byvoorbeeld vlaghysing elke oggend en stryking in die middae. Opening met skriflesing en gebed by funksies. Die hoofleiers doen rondtes tussen die ander leiers se dienspunte om te sorg dat almal hul pligte nakom en doen verslag aan die leier voogde. Ek neem ook die notules by die weeklikse leier vergaderings.

• Wat maak van ’n mens ’n goeie leier?

’n Goeie leier lei deur voorbeeld, sonder om voorskriftelik te wees. ’n Leier moet nie net kan lei nie maar ook kan volg. Veral op laerskool leer mens nog om ’n goeie leier te wees en is dit belangrik om my leier voogde te volg.

• As jy raad vir jonger leerders kon gee, wat ook graag hoofmeisie wil word, wat sal dit wees?

Wees eenvoudig net jouself.

• Die jaar is nog lank, waarna sien jy die meeste uit?

Na al die leier- en graad sewe-aktiwiteite wat voorlê, soos die speletjiesdag, sokkies, tafelsnoepie en om ons leier hemde te ontvang. Ek sien veral uit na die revue want Laerskool Dalview het ses jaar gelede, toe ek in graad een was, laas revue gehad. Ek kan ook nie wag om te sien hoe die graad eentjies groot word nie. Hulle is vir my vreeslik oulik.

Lees ook: Blinknuwe leiers by Laerskool Dalview

• Watter vak is vir jou die lekkerste en hoekom?

Natuurwetenskappe, die onderwyser, meneer Francois Benade, maak die vak vreeslik interessant. Hy is ook altyd voorbereid en georganiseerd en maak altyd ’n grappie.

• Watter vak sal jy liewer ’n mis gee as jy kan?

Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.

• Beoefen jy sport by die skool en dink jy dit is belangrik dat kinders aan sport deelneem?

Ek het meer kultuur aktiwiteite as sport. Ek speel wel hokkie en glo dit is belangrik dat kinders aan groepsport deelneem aangesien jy daar leer om in ’n span saam te werk en leer om elkeen se sterk punte te waardeer.

• Dink jy daar is hoop vir die jong mense van hierdie land?

As ek na die leerders van Laerskool Dalview kyk, glo ek daar is baie hoop vir ’n blink toekoms. Daar is hope talent in elkeen en met ’n positiewe houding sal ons Suid-Afrika van krag tot krag kan neem.

• As jy een wens het, wat bewaarheid sou kon word, wat sou dit wees?

Dat alle kinders in Suid-Afrika die voorreg het om skool te gaan in ’n skool soos Laerskool Dalview en die kwaliteit onderrig wat ons het te kry.

• Het jy al besluit wat jy eendag wil word?

Ek is vreeslik lief vir drama en sal graag ’n aktrise wil word.

• Wat laat jou sommer lekker lag?

Ek sien maklik snaakse goed raak. Op die oomblik is dit Elton du Plessis in my skool wat my vreeslik kan laat lag met sy snaakse sê-goed en veral my sussie wie besonders goed is met komiese karakteriserings.

• Wat maak jou baie gou kwaad?

Mense wat gelyk en oormekaar praat. Ek vervies my vir wanorde.

Volg ons:

Instagram

Twitter

Facebook

 

Related Articles

Back to top button