Editor's choiceLocal newsNews

Moet nie slaplê met basiese veiligheidsmaatreëls nie

Deur die basiese veiligheidsmaatreëls te alle tye in gedagte te hou kan die publiek ’n groot bydrae maak tot die bekamping van misdaad in die dorp.

Dit is die raad van Kapt Peet van der Schyff van die Brakpan SAPD.

“Ons ondervind daagliks dat inwoners eenvoudige en basiese veiligheidsmaatreëls nie toepas nie, met die gevolg dat misdadigers die situasie uitbuit,” het Van der Schyff gesê.

Hy het raad gegee aan inwoners om hulself en hul eiendom te beskerm:

• Wees baie oplettend, veral wanneer jy jou huis verlaat en weer terugkeer. Indien daar vreemdelinge rondstaan of -sit, moet dit dadelik aangemeld word.

• Indien daar bosse of bome naby die ingang na jou erf is moet dit sodanig gesny word sodat dit nie ’n wegkruipplek vir booswigte bied nie.

• Honde dien as ’n goeie afskrikmiddel.

• Toets gekoppelde alarmstelsels gereeld en maak seker dat die sekuriteitswagte by die regulerede sekuriteitsowerheid (PHSIRA) geregistreer is.

• Dit is belangrik om jou huishulp en tuinier in te lig van die gevaar daar buite. Dié mense moet ook te alle tye op hul hoede wees en onder geen omstandighede vir vreemdelinge toegang tot die erf of huis gee nie.

• Ekstra slotte aan buitehekke en veiligheidshekke asook sekuriteitsligte moet oorweeg word.

• Maak seker dat jy die sektorvoertuie se nommers het.

• Leer jou bure ken en verwittig hulle wanneer jy weggaan.

• Duidelik sigbare nommers van die huis op hekke of buitemure is baie belangrik. Sodoende kan die huis makliker bereik word in geval van nood.

• Verander jou roetine elke dag. Moet nie elke dag op dieselfde tyd die huis verlaat of terugkeer nie.

Lees ook: Inbrekers saai verwoesting by Brakpan DBV

Van der Schyff het ook gemaan dat mense, wat groot bedrae geld by die bank onttrek, uiters versigtig moet wees.

“Mense moet sovêr moontlik vermy om met groot bedrae kontant te ry, maar wanneer dit nie anders kan nie, moet die persoon uiters oplettend wees.”

“Kyk gereeld in jou truspieëltjie en bly bewus van jou omgewing veral as jy by ’n stopstraat of rooilig stop,” het van der Schyff gesê.

Hy het bygevoeg dat enige verdagte persone of situasies sonder versuim by die Brakpan SAPD aangemeld moet word.

Die nommer is 011 744 4940.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Related Articles

Back to top button