CrimeNews

Moord op kaptein in Minnebron: Dis hoe dit gebeur het

’n Baie hartseer Mariaan, wat deur haar dogters Monique (24) en Nadine (21) ondersteun is, het Jaco, tydens ’n onderhoud met die Herald, onmiddellik in ’n neutedop opgesom.

Mariaan van Wyk (44), verloofde van die 47-jarige Kapt Jaco Pretorius, wat Woensdagmiddag deur rowers doodgeskiet is, het Saterdag vertel van die angsvolle en vreesaanjaende oomblikke wat haar lewe binne ’n oogwink verander het.

“Hy was my held,” het sy gesê.

“Hy het Woensdagmiddag nie vir een oomblik gehuiwer om my te beskerm nie en hy het met sy lewe geboet. Hy sal altyd my held bly,” het sy gesê.

Mariaan was Woensdag saam met Jaco en haar niggie, Marietjie Kriel (53) by die Mall@Carnival, waarna Marietjie hulle by Jaco se huis te Davystraat, Minnebron sou gaan aflaai het.

Marietjie het haar voertuig bestuur, terwyl Jaco voor langs haar gesit het en Mariaan het agter aan die bestuurderskant gesit.

“Ons was in ’n vrolike luim en Jaco het eerste uitgeklim om die hek oop te maak, toe Marietjie voor die huis stilgehou het,” het Mariaan vertel.

Sy verduidelik dat sy ook uitgeklim het maar dat haar aandag steeds by Marietjie was.

Eers toe sy hoor dat Jaco met iemand praat het sy omgedraai en in die rowers vasgekyk.

Mariaan kan ten spyte van die angsvolle oomblikke wat gevolg het, presies onthou hoe die nagmerrie ontvou het.

“Een van die rowers het my handsak gegryp en Jaco het dit probeer afneem, maar hy het ook deurentyd gestoei dat die rowers nie naby my of Marietjie moes kom nie.”

“Op ’n stadium het ek ’n skoot gehoor en ek het besef dat Jaco raakgeskiet is,” het Mariaan gesê.

Lees ook: Pas bekend: Een man vas na moord op Minnebron man

                    Man sterf in Minnebron nadat rower hom in maag skiet

Die rowers het sonder Mariaan se handsak op die vlug geslaan aangesien dit die handvatsel in die gestoeiery gebreek het en dit geval het.

“Ek kan onthou dat ek aanhoudend gegil het en dat Marietjie haar voertuig se toeter onophoudelik gedruk het.”

“Ek het vir Jaco vasgehou maar besef dat daar groot fout was.”

“Daar was ewe skielik baie mense en iemand het my van Jaco af weggetrek.”

’n Sekuriteitsbeampte het ’n swaar gewonde Jaco in sy voertuig gelaai asook vir Mariaan en na die Life Dalview Hospitaal gejaag.

“Daardie man was wonderlik. Hy het alles in sy vermoë gedoen om so gou moontlik by die hospitaal uit te kom.”

“Die optrede by die hospitaal was ook briljant maar daar kon niks meer vir Jaco gedoen word nie,” het ’n hartseer Mariaan gesê.

“Jaco was ’n persoon wat nie ’n vlieg sou skade aandoen nie. Hy was saggeaard, liefdevol en hy kon nie onmin verdra nie.”

“Hy was ongelooflik baie lief vir sy seun Hanro (15).”

Jaco was volgens Mariaan sowat 28 jaar in diens van die SAPD. Hy was in Johannesburg gestasioneer.

“Ek glo instink het hom laat optree toe hy die gevaar sien. Hy wou net vir my en Marietjie beskerm.”

Mariaan vertel ook dat sy dit erg ontstellend vind dat die persoon wat Jaco geskiet het verby haar beweeg het en haar reg in die oë gekyk het.

“Hy moes fisies verby my beweeg om weer by hul voertuig uit te kom en hy het reguit vir my gekyk.”

“Jaco het ’n kortbroek en T-hemp aangehad. Hulle kon gesien het dat hy nie gewapen was nie. Hulle het ’n liefdevolle pa, man, broer, vriend en held se lewe geneem.”

Begrafnisreëlings moet nog gefinaliseer word.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Related Articles

Back to top button