BlogsOpinion

In die kollig

Leer ken Benice Borman.

Benice Borman (35) is opgewonde oor die vrystelling van haar nuwe CD. Dié bekende inwoner woon saam met haar man, Sias en hul dogters Kayla (15) en Denike (9) in Dalpark.

• Jou sesde CD word op 10 November vrygestel. Vertel meer daarvan.

Ek is baie opgewonde oor hierdie CD. Na die album Here praat met my is dit nou vyf jaar later en my nuwe gospel album, Hier naby U, is uiteindelik hier. Die CD word by El-Roi Teater te Afrikanerweg Dalpark vrygestel en almal is welkom. Ek is bevoorreg om Neville Burr Dixon te hê as die seremoniemeester vir die aand en Johan Swanepoel as gaskunstenaar.

• Hoe lank sing jy nou al?

Vandat ek kan praat. Ek onthou nog soos gister, myself as ‘n vyfjarige dogtertjie op ‘n verhoog in Welkom waar ek uit volle bors gesing het. Ek sing al vir solank as wat ek kan onthou.

• Wat doen jy wanneer jy nie musiek maak nie?

Dan leef ek my ander passie uit en dit is kinders. My kleuterskool is een van my groot passies en om elke dag met my kinders te werk en vir hulle iets te beteken maak my lewe vol. Dan hou my eie kinders my natuurlik baie besig. Ek geniet dit om mamma te wees.

• Watter tipe musiek is jou gunsteling?

Ek is mal oor Country, gospel musiek en iets wat min mense weet, boeremusiek. In die algemeen is ek mal oor musiek met ‘n mooi boodskap en wat met jou praat.

• Noem ’n hoogtepunt wat jy die afgelope jaar beleef het?

My nuwe CD, Hier naby U, is ‘n hoogtepunt vir my. Ons het hard daaraan gewerk en die eindresultaat is uitstekend.

• Waar sien jy jouself oor 10 jaar?

Oor 10 jaar wil ek nog musiek, wat ’n verskil in mense se lewe maak, maak. ’n Paar CD’s later en ’n DVD met al my treffers.

• Wie is jou rolmodel en hoekom?

My man Sias is my rolmodel. Hy is die mees nederigste en kalmste mens. Hy is die persoon wat my rustig maak wanneer dinge bietjie rof en te veel raak. Hy is beslis my rolmodel.

• Wat is jou stokperdjies?

Ek het nie baie tyd vir my eie stokperdjies nie, maar wanneer ek tyd het hou ek daarvan om rustig te raak en ‘n mooi fliek te kyk of tyd saam met my vriende, vriendinne en familie te spandeer.

• Kan jy enige instrumente speel?

Ek speel klavier en ek kan myself op ‘n kitaar help.

• Noem jou gunsteling plaaslike en internasionale sanger.

Internasionaal is dit David Phelps en plaaslik is dit Ruhan van Touch of Class.

• Iets wat mense nie van jou weet nie.

Baie min mense glo my nie as ek sê dat ek van kamp hou nie.

• As jy vir ’n dag lank enige persoon op aarde kon wees, wie sou dit wees en waarom?

Ek sou ‘n man wou wees. Om op te staan in die oggend, werk toe te gaan, huis toe te kom en jou bord kos staan reg en alles word vir jou gedoen, maar andersins sal ek net myself wil wees. Ek is tevrede met wie ek is en wat ek het.

• Sal jy dit ooit oorweeg om die land permanent te verlaat en in ’n ander land te gaan woon?

Ek glo nie. Ek is te lief vir my land en my mense. Ek is ‘n mense mens en te lief vir die mense wat deel is van my lewe.

• Wat sal ’n mens altyd in jou handsak kry?

My handsak kan jou nogal verras. Daar is iets van alles, maar jy sal definitief my grimeersakkie, parfuum en handreiniger daarin kry.

Lees ook:

Die Ventertjies weet van kitaarspeel

Brakpanner wen groot bedrag geld op Musiek Roulette

Kerk is reg vir groot fees

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Related Articles

Back to top button