Editor's noteLocal newsNews

Brakpan Gemeenskapspolisiëringsforum wil impak maak op misdaad

Die Brapkan GPF vorm ’n belangrike skakel tussen die SAPD en die gemeenskap in ’n poging om misdaad in die dorp hok te slaan.

Die Brakpan Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het verlede Woensdag, uit die onderskeie sektorstrukture, ’n nuwe uitvoerende komitee verkies.

Aan die stuur van die komitee is oud-kol Apie Peens wat tot voorsitter verkies is.

Hy sal bygestaan word deur Zamangumi Bengo (ondervoorsitter), Lee-Ann Kuilder (sekretaris),

Johannes Sathekge (assistentsekretaris), Gladwell Mashego (tesourier), Adele de Jager (openbare betrekkinge) en Vanessa Khan (assistent, openbare betrekkinge).

Die Brapkan GPF vorm ’n belangrike skakel tussen die SAPD en die gemeenskap in ’n poging om misdaad in die dorp hok te slaan.

Oud-kol Apie Peens het in 1983 by die SA Polisiemag as reservis aangesluit en het in talle dorpe en gemeenskappe as reservis gedien.

Hy het homself in 2005 in Brakpan gevestig waar hy vir die grootste gedeelte van sy loopbaan as reservis in die dorp gedien het.

Peens het vanjaar, na ‘n 34 jaar lange loopbaan as reservis, uit die diens getree.

Uit die aard van sy skatkis vol ervaring het hy vir ‘n geruime tyd op die plaaslike GPF-strukture gedien, maar vanweë die wetlike bepalings, wat aktiewe SAPD lede weerhou van bestuursposte binne die GPF, het hy altyd net as aktiewe lid deelgeneem.

Die huidige tendens van toenemende misdaad landswyd, maar spesifiek in Brakpan, het hom egter genoop om onlangs daadwerklik op voetsoolvlak meer betrokke te raak.

“My doelstelling is om daadwerklik ’n konstruktiewe bydrae te lewer en deur gemeenskapsamewerking die GPF te bemagtig om daadwerklik ’n impak te maak in die plaaslike stryd teen misdaad,” het Peens gesê.

“Uit jare se ervaring het ek geleer dat geen man alleen hierdie tipe van taak kan aanpak nie en dus steun ek op die kundigheid en toewyding van die bestuurspan, die onderskeie sektorbesture en natuurlik ook op die samewerking en ondersteuning van elke inwoner van die Brakpan,” het Peens gesê.

Peens is voorts vas oortuig daarvan dat daar met die nodige steun van al die rolspelers ’n drastiese wending kan kom in die bekamping van misdaad en dat die dorp op ‘n positiewe uitkyk kan reken.

AfriForum Brakpan se takbestuur, forumhoofde en lede het die nuutverkose uitvoerende lede van die Brakpan GPF geluk gewens met hul aanstellings.

Volgens AfriForum Brakpan het die dorp ‘n ongelooflike behoefte aan ‘n gerespekteerde, gedissiplineerde, kundige, vaardige en bevoegde GPF-struktuur, om soos wat dit in die raamwerk van die wet omskryf word, die toepaslike en effektiewe skakel tussen die gemeenskap en SAPD te wees en om daadwerklik misdaadbekamping effektief te bestuur.

Die publiek wat meer inligting oor die GPF wil bekom kan vir Adele de Jager by 073 787 3500 kontak.

Related Articles

Back to top button