Editor's choiceLocal newsNews

Haweloses voer sukkel bestaan

“Ek weet dit is net ‘n kwessie van tyd voordat ons aangesê gaan word om pad te gee en dan weet ek nie wat ons gaan doen nie.”

Dit het deesdae ‘n algemene gesig in die dorp geword om mense in tente en saamgeflanste skuilings te sien woon.

Die karige skuilings, wat haweloses se enigste veilige hawe of woonplek is, steek oral kop uit.

In Kingswaylaan is verskeie sulke woonplekkies op die sypaadjies aan weerskante van die straat ingerig.

Een van die plekke is al die afgelope sewe maande die blyplek van Anneke Nel (43) en haar vriend, Nick Digovich (38).

Die paartjie het geen ander heenkome nie en het hul intrek by ‘n inham van ‘n gebou in die straat geneem.

Hul slaapplek is verskuil agter lakens, wat oor ‘n draad hang en met wasgoedpennetjies vasgesteek is.

Die onderpunte van die lakens word met bakstene of ander swaar items vasgepak sodat dit nie opwaai nie en dus ‘n mate van privaatheid skep.

“Glo my, dit is nie my keuse om so op ‘n sypaadjie te bly nie,” sê Anneke duidelik.

“Omstandighede het my hier laat beland.”

Sy vertel dat haar man, Marius, sowat vyf jaar gelede vermoor is.

Anneke Nel hou steeds die as van haar man, wie sowat vyf jaar gelede vermoor is.
Anneke Nel hou steeds die as van haar man, wie sowat vyf jaar gelede vermoor is.

“Hy is erg aangerand en het aan sy wonde beswyk,” het sy vertel.

“Vandaar het dinge maar net begin sleg gaan.”

Anneke hou steeds haar man se as by haar en wanneer iemand verby hul sypaadjie-woning stap, is die houer, met as, duidelik sigbaar op een van die kaste.

“Ek is ook gediagnoseer met bloedkanker en kan nie mediese sorg bekostig nie,” vertel Anneke.

“Ons het voorheen by iemand gebly, maar die persoon het ons uitgesit en nou is ons op straat.”

Sy vertel dat hulle nie juis gepla word nie.

“Daar was twee voorvalle waar mense ons goed probeer steel het, maar ons slaap maar lig.”

Die paar het wel Maandagaand ‘n terugslag beleef toe hulle trollie, wat hulle gebruik om herwinning te doen, gesteel is.

“Ons vat elke dag ons trollie om papier, plastiek en hout bymekaar te maak. Dit verkoop ons dan om ‘n paar rand te verdien. Nou is ons trollie weg.”

Sy voeg by dat hulle op ‘n goeie dag sowat R100 in die sak kan steek, maar dat dit nie elke dag gebeur nie.

Vir voedsel is hulle afhanklik van kerke en welsynorganisasies wat kos aan haweloses voorsien.

“Ek weet dit is net ‘n kwessie van tyd voordat ons aangesê gaan word om pad te gee en dan weet ek nie wat ons gaan doen nie,” het Anneke gesê.

“Intussen, vat ons dit maar een dag op ‘n slag. Ons is nie hier omdat ons hier wil wees nie,” het sy bygevoeg.

Lees ook: 

Geen ander keuse as om snags buite te slaap nie

Desperate mense plaas hul lewens op die spel: slaap oop en bloot in die wandellaan

Related Articles

Back to top button