CrimeEditor's choiceNews

Seuntjie (5) sterf in ongeluk toe motor onklaar raak

‘n Saak van strafbare manslag word deur die Brakpan SAPD ondersoek.

‘n Vyf-jarige seuntjie en twee volwassenes is Saterdagaand oorlede, toe hul voertuig op die R23 onklaar geraak het, en ‘n ander voertuig na bewering van agter daarin vasgery het.

‘n Jong vrou en ‘n agt-jarige kind, wat ernstige kopbeserings opgedoen het, het die ongeluk oorleef. Die kind se ma was een van die oorledenes.

Volgens Louise Coetzee (19), was sy en haar pa, Jan van den Berg (64), haar lewensmaat Claire Coetzee (34), haar boetie, Adriaan Jan Coetzee (5), en Claire se seuntjie, Jan Coetzee (8), Saterdagaand om ongeveer 8.30nm op pad na Carnival City.

“Ek het voor by my pa gesit en toe ons kar op die R23 gaan staan het, het ek uitgeklim om dit te stoot om te sien of dit weer aan die gang sou kom,” het Louise gesê.

“Ons het dit aan die gang gekry, maar die kar het weer gevrek en ek was nog besig om uit te klim toe ‘n voertuig ons van agter tref.

“Dit was ‘n geweldige slag, en meer as dit kan ek nie onthou nie.”

“Volgens inligting wat ek gekry het is Claire, my pa en my boetie op die toneel oorlede.

Claire se beseerde kind en Louise is na die Sunshine Hospitaal in Actonville vervoer.

Louise se beserings was minder ernstig maar, volgens haar, is die agt-jarige Jan steeds in ‘n ernstige toestand in die hospitaal, waar hy vir ondermeer kopbeserings behandel word.

Die betrokkenes het almal in die Shozoloza Village (voorheen Die Herberg) gewoon.

Claire se pa, Danie Labuschagne (56), is al die afgelope sewe jaar ‘n karwag by Perry’s Supermark, in Dalview, en weens sy vriendelike geaardheid ken baie mense van die dorp hom.

Hy het Dinsdagoggend bewoë aan die Herald gesê dat sy dogter sy “engelkind” was.

“Ons was baie na aan mekaar en sy het my byna elke dag gebel om te hoor of alles reg is,” het Labuschagne gesê.

Avbob Begrafnisondernemers het onderneem om die drie oorledenes se begrafnisse waar te neem.

Volgens Louise, sal Claire Donderdag begrawe word, en sal Jan en Adriaan Jan se begrafnisse Vrydag plaasvind.

‘n Saak van strafbare manslag word deur die Brakpan SAPD ondersoek.

Related Articles

Back to top button