Local sportSport

Brakpan inwoner is die baas van die baan

Rieckerd Louwrens het ‘n foutlose finaal gery om eindelik die wenvlag en SA1 te kon neem.

Brakpan se Rieckerd Louwrens het afgelope naweek, op die Ultimate Raceway, Vereeniging, tydens die WOMZA ovaalbaan SA’s, weer gewys wie die baas van die baan is.

Louwrens het nie alleen die WOMZA SA1 teerbaan titel in die Flexi-klas verwerf nie, maar ook die jongste kampioen in dié klas geword.

Die 20-jarige Louwrens ding slegs die afgelope twee en ‘n half jaar mee in hierdie hoogs kompeterende klas.

Met die onderskraging van sy borg, Fullertrain, en ‘n toegewyde span ondersteuners, het hy dit hierdie seisoen tot bo-aan die kampioenskapslys gemaak. Met ‘n laaste wegspringplek in die eerste uitdun was dit van meet af koelkop bly.

‘n Wen in die tweede uitdun het hom ‘n wegspringplek in die voorste ry vir die finaal verseker.

Louwrens het ‘n foutlose finaal gery om eindelik die wenvlag en SA1 te kon neem.

Nog ‘n plaaslike renjaer, Eugene Wiese, moes hard baklei om eindelik met ‘n welverdiende tweede plek in die Flexi klas te kon wegstap.

Die talentvolle jaer Chanté Wiese is in die finaal deur ‘n ander deelnemer ge-elimineer, nadat sy haar baanposisie goed verdedig het, en sy moes weens skade aan haar voertuig die aksie vanaf die binnebaan volg.

The Rock Raceway het tydens die SA’s weer getoon waarom hulle die mekka van motorsport aan die Oosrand is.

Behalwe vir top twee in Flexi klas, het plaaslike renjaers ook in ander klasse uitgestaan, met Phillip Muller, ‘n relatiewe nuweling op die baan, in ‘n Mk1 Escort, wat spog met die SA3 in die Super Saloon klas.

In die Formule 2 Midget klas het Charles Halley SA2 en Fanie Muller SA3 losgejaag.

Dewald Kotzé het goed gevaar in sy Kotzé Gearbox en Diff Sprint.

Alhoewel dit slegs as ‘n ondersteunende wedren aangebied is, was sy meesterlike beheer oor sy kragtige Sprint iets om te aanskou.

Related Articles

Back to top button