Editor's noteLocal newsNews

Fasiliteite by skool word opgeknap danksy skenking van Just Wheels

Die Geotab Just Wheels Motorskou het gesorg dat die bestuur van die klub Woensdagaand ’n tjek ter waarde van R134 361.50 aan die hoof van Muriel Brand Skool kon oorhandig.

Muriel Brand Skool het Woensdag ’n welkome finansiële skenking van die Just Wheels Motorklub ontvang.

Die Geotab Just Wheels Motorskou, wat vroeër vanjaar gehou is, het gesorg dat die bestuur van die klub Woensdagaand ’n tjek ter waarde van R134 361.50 aan die hoof van Muriel Brand Skool, dr Japie de Jager, kon oorhandig.

Die klub het sy eerste motorskou sewe jaar gelede by die skool aangebied toe daar 65 voertuie op skou was en slegs sowat 10 vlooimarkstalletjies.

Die skou het sedertdien gegroei en vanjaar was daar meer as 500 voertuie te sien en duisende besoekers het deur die hekke gestroom.

Lees: Alles van blink vuurwaens tot ou tjorre by motorskou te sien

Dr Japie de Jager, hoof van die skool, het tydens Woensdagaand se tjek oorhandiging gesê dat ’n fondsinsamelingsprojek van dié aard ongekend is in die gemeenskap.

“Ek glo nie mense besef wat dit vir ons skool beteken nie en ons waardering is baie groot,” het De Jager gesê.

“Ons besef maar te goed dat dit nie ure of dae se beplanning en harde werk verg nie, maar wel maande se werk,” het De Jager bygevoeg.

De Jager het gesê dat die aantal leerders, wat die skool huisves, oor die jare gegroei het tot 450 leerders.

“Dit is bykans dubbeld soveel as waarmee ons begin het.”

“Die toilet fasiliteite is nog nooit aangepas nie en ons gaan die skenking van Just Wheels gebruik om die nuwe fasiliteite vir die hoërskool afdeling aan te bring,” het De Jager gesê.

“Ons sou dit beslis nie kon oorweeg sonder die skenking wat die skool van Just Wheels ontvang het nie.”

“Dit gaan oor ons kinders en ek bedank almal wat ’n hart het vir die kinders, want op die einde van die dag gaan dit alles net oor die kinders van die skool,” het De Jager gesê.

Vishnu Perumalsamy, besturende direkteur van Geotab, wat die borg van die motorskou was, het gesê dat die geleentheid voorwaar ’n sukses was en hy het die hoop uitgespreek dat Geotab se verbintenis met die motorskou sal voortgaan.

Bart Zaayman, bestuurslid van Just Wheels en organiseerder van die skou, het gesê dat die motorskou voorwaar oor die afgelope sewe jaar gegroei het.

“Ons eerste skou het net 65 voertuie gesien,” het Zaayman gesê.

“Ons het nog nooit terug gekyk nie. Dit verg wel baie harde werk en beplanning, maar gelukkig is ons ’n span wat saamwerk en elke jaar die pyp rook,” het Zaayman gesê.

Zaayman het aan die Herald gesê dat daar vanjaar meer as 500 voertuie op die skou was.

“Volgende jaar maak ons beslis weer so. Die wiel is alreeds aan die rol,” het Zaayman gesê.

 

Related Articles

Back to top button