CrimeNews

Vrou verloor bewussyn toe rower haar erg in huis aanrand

’n 39-Jarige vrou van Brakpan-Noord is Woensdag so erg deur ’n rower geslaan, geskop en gewurg dat sy haar bewussyn in die gang van haar huis in Charltonstraat verloor het.

Die vrou was ongeveer 11vm besig om wasgoed op te hang toe twee mans oor ’n agtermuur spring.

“Die eerste man het oorgespring en toe sy makker oorklouter het my Duitse herdershond hom beetgekry,” het die vrou vertel.

Die hond het gelukkig verhoed dat beide die mans by die vrou kon uitkom, maar een het haar nietemin oorrompel en met ’n mes in die huis gedwing.

“Hy wou weet waar die kluis is en ek het gesê dat ons nie ’n kluis het nie.”

Die vrou wat aan ’n WhatsApp-groep behoort, het haar selfoon in haar sak gehad en het ’n funksie op haar foon geaktiveer sodat mense kon weet dat sy in die moeilikheid was.

“My huisfoon en selfoon het begin lui, maar die rower het gesê dat ek nie my huisfoon mag antwoord nie.

“Ek het vir hom gesê dat indien ek nie my selfoon sou antwoord nie, mense sou weet dat daar fout is. Hy het ingestem dat ek dit kon antwoord, maar het die mes teen my keel gehou.

“Dit was my man (40) wat gebel het. Ek het sekere dinge aan hom gesê wat hom laat besef het dat ek in die moeilikheid was.”

Die rower het die vrou intussen beveel om juweliersware aan hom te oorhandig.

Hy het ook kontant wat op ’n kas gelê het geneem.

“Ons was op ’n stadium in die gang en ek het hom, met al die krag wat ek in my gehad het, met my vuis in die gesig geslaan.”

Die hou was so hard dat die vrou se gewrig gekraak het.

Dit was egter nie genoeg om die booswig van stryk te bring nie en hy het die vrou met ’n baksteen of klip hard teen die voorkop en wang geslaan.

Toe sy val het hy haar in die rug geskop en begin wurg.

“Ek het daarna my bewussyn verloor en eers weer tot my sinne gekom toe my ma by my in die huis gekom het.

Die vrou se 64-jarige ma woon langs haar.

“My man het my ma en ’n vriendin (42) wat naby my woon gebel toe hy vermoed het dat ek in die moeilikheid was,” het die vrou vertel.

“My vriendin was ook gou by my huis en sy het haar voertuig se toeter gedruk. Ek glo dit het dalk die mans afgeskrik.”

Volgens haar moes haar hond die ander rower erg gekarnuffel het, aangesien daar baie bloed in die erf en aan die hond was.

“Ek is baie dankbaar dat beide die rowers nie saam met my in die huis kon kom nie. Dinge kon soveel anders gewees het. My hond was ’n hero.”

Die vrou is na ’n hospitaal geneem waar sy vir die beserings aan haar gesig en hand behandel is.

’n Soortgelyke voorval het onlangs plaasgevind toe ’n huiswerker deur drie rowers oorval is toe sy wasgoed by ’n huis in Talbotstraat opgehang het.

Lees die volledige berig hier.

In die voorval het die rowers weggekom met verskeie waardevolle items.

Die saak word deur die SAPD ondersoek.

Related Articles

Back to top button