LettersOpinion

Bejaardes bly onder boom

"Anoniem", Dalview, skryf:

Op die hoek van Craigholmstraat en Gerrit Maritzlaan, in Dalview, het ‘n bejaarde egpaar vir meer as twee weke onder ‘n boom in die parkie gebly.

Hulle het geen ander heenkome gehad nie. Hulle het ook aan my vertel dat hulle gereeld gemene dinge toegesnou is deur mense wat op hulle neergekyk het, net omdat hulle geen ander keuse gehad het as om onder ‘n boom te bly nie.

Tog wil ek graag baie dankie sê aan die mense wat wel vir hulle iets te ete gegee het en ‘n kombers of klere aangedra het.

‘n Vrou wat ek ken het Vrydag daar verby gery en met die egpaar gaan gesels.

Hulle het aan haar vertel dat dit snags bitter koud is en dat hulle hoop en vertrou dat daar op een of ander manier vir hulle ‘n uitweg sou wees.

Die egpaar is nie bedelaars nie en het niemand gepla nie. Hulle het bloot net nie ‘n inkomste of enige famlie wat hulle kan help nie.

Die vrou het dadelik ‘n plaaslike pastoor van ‘n bekende Pinkster Kerk gekontak en die omstandighede van die egpaar onder sy aandag gebring.

Hy was baie behulpsaam en binne ‘n halfuur het hy by die park opgedaag.

Hy het die bejaarde mense, met hulle bietjie besittings, na ‘n plek geneem waar hulle nou hul dae en nagte veilig en warm kan deurbring.

Dit is fantasties om te weet dat daar nog mense is wat omgee vir hul medemens en nie net sit en toekyk nie.

Hier was mense wat gereageer en iets daadwerkliks gedoen het.

Daardie ou mense moes elke nag vir twee weke lank bitter, bitter koud gekry het om net so in die park te slaap.

Redakteur se nota: Die Herald was bewus van die egpaar en het hulle genader om meer van hul omstandighede te wete te kom.

Hulle het egter die versoek van die hand gewys en gevra dat daar nie iets oor hulle gepubliseer moes word nie.

Die man het gesê dat hulle nie die indruk wil skep dat hulle bedel of gunse vra nie.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button