CrimeEditor's choiceNews

Rower druk mes teen motoris se keel en beroof haar

“Toe ek stilhou het twee mans skielik langs my verskyn. Een het dadelik ‘n mes teen my keel gedruk en ek kon sien dat die ander man ook ‘n mes in sy hand gehad het.”

‘n 44-Jarige vrou van Dal Fouche het Donderdagaand angsvolle oomblike beleef toe sy deur twee mans, wat beide met messe gewapen was, beroof is.

Die vrou, wie se naam weerhou word, het net na 9nm op die hoek van Goodsweg en Stoffberglaan stilgehou.

“Ek was siekerig en het so ‘n bietjie voor 9vm vanaf my huis na ‘n apteek in Brakpan gery, met die hoop om dit nog oop te kry. Ek was egter te laat en het terug gekeer na my huis toe die voorval plaasgevind het,” het sy gesê.

Die vrou vertel dat haar bakkie se deure gesluit was, maar dat die venster ‘n ent oopgedraai was, aangesien sy koorsig gevoel en warm gekry het.

“Toe ek stilhou het twee mans skielik langs my verskyn. Een het dadelik ‘n mes teen my keel gedruk en ek kon sien dat die ander man ook ‘n mes in sy hand gehad het.”

Volgens die vrou het sy geskrik en haar voertuig, wat in rat was, laat vrek.

“Die man, wat die mes teen my keel gedruk het, het gesê dat ek my hande op die stuurwiel moet plaas. Hy het my trouring afgeruk en so ook my horlosie en ‘n hangertjie, wat om my nek was.”

Volgens die vrou was die ander man egter veel meer aggressief en was haar aandag meer op hom gevestig.

“Ek het hom heeltyd dopgehou, totdat hy vir my gesê het om op te hou om vir hom te kyk.”

Sy beskryf die man as redelik groot gebou, met ‘n klein bokkiebaard. Hy het ‘n groot litteken aan die regterwang en ‘n kleiner litteken onder die linker oogbank.

“Die aggressiewe rower het ook die heeltyd vir geld gevra,” het die vrou vertel.

“My beursie was versteek maar daar was ‘n koelhouer, waarin ek my kos werk toe neem, op die passasiersitplek. Ek het vir hulle gesê dat daar geld in was.”

“Die man wat die mes teen my keel gehou het, het oor my geleun en dit ook gevat.”

Genadiglik vir die vrou het ‘n ander motoris van agter aangery gekom. Dit het veroorsaak dat die twee rowers weggehardloop het.

“Ek het onmiddellik my voertuig aan die gang gekry en weggery,” het sy gesê.

“Ek het nie eens gesien of hulle te voet gevlug of in ‘n voertuig geklim het nie.”

Die voorval is by die SAPD aangemeld.

Lees ook:

Rowers dreig vrou, vat haar handsak en foon

Trio’s crime spree comes to an end

Robbers take advantage of family’s car trouble

Hond getraumatiseerd nadat inbrekers hom seermaak

Related Articles

Back to top button