Editor's noteLettersOpinion

Hopelik sal diewe nie trappe wil klim nie

Ek troos myself dat skelms en diewe nie sommer ses of agt stelle trappe sal klim nie.

Ongelukkige inwoner, Brakpan-sentraal skryf:

Ek verwys na die berig op die voorblad van die Herald van 1 April (Bejaardes voel onveilig).

My ma woon die afgelope ses jaar in een van die woonstelle by Tweedy Park. Sy woon op die sesde vloer en haar gesondheid is nie van die beste nie, alhoewel sy nog goed na haarself kan kyk.

Dit is nie net die veiligheid waaroor almal daar bekommerd is nie. Dit is algemene kennis dat die hysbakke meer stukkend is as in ‘n werkende toestand.

Ek troos myself dat skelms en diewe nie sommer ses of agt stelle trappe sal klim nie. Die bejaardes sukkel ook gereeld met die waterdruk en baie keer is daar glad nie water nie.

Ons moet seker dankbaar wees dat daar nog ‘n plek in Brakpan is waar ons bejaarde mense kan bly, maar hulle bly tog nie verniet daar nie.

Die instandhouding word net nie meer gereeld gedoen nie. Die plek lyk eintlik gehawend. Ek het nou die dag vir my ma gaan kuier, toe sit daar twee hawelose mense naby die hek.

Dit is net ‘n kwessie van tyd voordat mense daar gaan begin insluip om ‘n slaapplek te kry. Daar is baie hoekies en gange en die winter is op pad. Mense gaan desperaat raak.

Ek smeek tog dat die verantwoordelike persone weer sal kyk na ‘n plan om die hekwagte daar te kry en die heining reg te maak.

Nie net lyk dit baie aaklig nie, dit is ‘n ope uitnodiging aan enigiemand om daar in te gaan.

Lees ook:

Afwesigheid van hekwagte pla

Local panel beater ‘swindled’ pensioners

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button