CrimeEditor's choiceNews

Vrou se oog beseer in padwoede voorval

“Gelukkig het ’n man, wat verby gery het, stilgehou en homself tussen my en die vrou geplaas."

’n 24-Jarige vrou van die dorp is gisteroggend (Maandag) in ’n oënskynlike padwoede-voorval deur ’n ander vroulike motoris geklap en met ’n motorsleutel in die gesig geslaan.

Caroline Smith is erg getraumatiseerd gelaat, veral oor die feit dat sy ’n familielid se 11-jarige kind saam met haar in die voertuig gehad het. Die kind het die hele voorval aanskou. (Die kind se naam word op versoek weerhou).

Caroline vertel dat sy ongeveer 7vm op die R23 op pad na haar werkplek was.

“Ek het nie vinnig gery nie, aangesien die kind saam met my in die kar was.”

“’n Vrou, wat ’n grys Jetta bestuur het, het agter my gery en toeter geblaas en tekens gewys. Sy wou duidelik verby my gaan. Ek het in die regterbaan gery en daar was ’n vragmotor aan die linkerkant,” het Caroline vertel.

“Sy het twee keer probeer om verby my te kom en weer terug geswaai.”

“Toe ek verby die vragmotor gaan het sy dit ook gedoen, waarna sy voor my ingery en rem getrap het. Sy het haar voertuig dwars oor die pad gestop sodat ek nie verder kon ry nie.”

“Ek het uitgeklim en vir die kind gesê om die deure te sluit en in die kar te bly.”

“Die vrou was aggressief en het vir my gevra waarom ek so stadig ry. Sy het aanhou opmerkings maak en my twee keer deur die gesig geklap.”

“Daarna het sy my met haar motorsleutel op die oog geslaan.”

Caroline het vertel dat daar ook omstanders was, wat die vrou aangehits het.

“Gelukkig het ’n man, wat verby gery het, stilgehou en homself tussen my en die vrou geplaas.

“Hy het vir my gesê om in my kar te klim en te ry. Hy het die besonderhede van die vrou se registrasienommer gekry.”

Caroline, wat bekommerd was oor die besering aan haar oog, is deur ’n dokter ondersoek.

Sy het ook die voorval by die Brakpan SAPD aangemeld.

Lees ook:

No respect to the rules of the road 

Road safety tips

Witkoppen road rage caught on phone camera

Related Articles

Back to top button