Editor's noteLocal newsNews

Mooi bene sorg vir 60 jaar se huweliksgeluk

Dit is veilig om te sê dat David Wandrag (82) se mooi bene ‘n deurslaggewende rol gespeel het toe sy vrou Bess (80) 60 jaar gelede vir hom die ja-woord gegee het.

Die egpaar van Brakpan-Noord het verlede Donderdag hul 60ste huweliksherdenking gevier.

Bets vertel, tong in die kies, dat sy vir David die eerste keer van agter gesien het.

Dit was op die dorpie Hotazel (algemeen bekend as Hot as hell), in die Noord-Kaap, waar die twee saam gewerk het.

“Toe ek daardie mooi bene gesien het, het ek besluit daardie man gaan myne word,” het Bess grappenderwys vertel.

David het ook nie op hom laat wag nie en het net twee weke nadat hulle mekaar ontmoet het al die ja-woord gevra.

“Ons het darem so jaar gewag voordat ons op Griekwastad getroud is,” het Bess vertel.

Sy onthou haar huweliksdag goed, maar ‘n gebeurtenis op die aand voor haar troue sal haar altyd bybly en sy raak steeds emosioneel as sy daaraan dink.

“Die aand voor ons huwelik het my dierbare pa, Stoffel van Zyl, koers gekies met sy bakkie, die veld in,” het sy gesê.

“Ek glo hy het van my afskeid gaan neem, want ek en hy was baie na aan mekaar.

“Hy was vir ‘n hele ruk weg en ek het eers die volgende dag uitgevind van die hele gedoente. Dit is iets wat vir my dierbaar en kosbaar is en wat ek altyd sal onthou.”

Bess vertel dat David ‘n man duisend is, wat hard gewerk het en goed vir haar en hul drie dogters gesorg het.

“Natuurlik was daar soms haakplekkies, maar dit is tog normaal in ‘n huwelik,” het sy bygevoeg.

“Maar daar is niks wat die liefde en verdraagsaamheid nie kan regmaak nie.

“Een van my kleinkinders het met ons 50ste huweliksheredenking gevra hoe dit voel om vir 50 jaar langs dieselfde `gesig’ wakker te word. Nou is dit al 60 jaar.”

Beide geniet nog redelike goeie gesondheid en Bess is ‘n voorslag wanneer dit by borduurwerk en tuinmaak kom.

Om hul huweliksherdenking te vier, het die egpaar ‘n vertoning van Steve Hofmeyr in Pretoria gaan kyk en die volgende dag ‘n vertoning van die Grafsteensangers.

“Ons is nie eintlik teater-mense nie, maar ons hou van Steve en ons het die vertoning baie geniet.

“Die Grafsteensangers was net so ‘n aangename verrassing,” het Bess gesê.

Die egpaar het ook nege kleinkinders en 2 agterkleinkinders.

Related Articles

Back to top button