CrimeEditor's choiceNews

Man op parool roof maar word gevang

Slegs ‘n dag nadat ‘n bejaarde vrou in Brenthurst deur ‘n inbreker in haar huis oorval is, het twee rowers weer in Brenthurst toegeslaan.

Dié keer is ‘n huiswerker oorval terwyl sy Dinsdagoggend (16 Julie) wasgoed opgehang het.

Flinke optrede van ‘n buurvrou en die Brakpan SAPD het daartoe gelei dat een van die mans gevang en gearresteer is.

By ondersoek is daar vasgestel dat die man tans op parool uit is, vir ‘n saak van diefstal en huisbraak wat in Benoni aangehoor word.

Desiré Coetzer (41) woon in die tuinwoonstel in Tweedyweg, wat die teiken van die rowers was.

“My huiswerker (sy verkies dat haar naam nie gepuliseer moet word nie) was besig om wasgoed op te hang en die tuinwoonstel het oop gestaan,” het Desiré gesê.

“Twee mans, wat oor die muur gespring het, het haar verras en vir die sleutels van die hoofhuis gevra.

“Sy het aangdui dat sy nie sleutels vir die huis het nie.”

Die rowers het die huiswerker na die tuinwoonstel geneem, waar hulle haar vasgebind het. Daarna het hulle deur Desiré se besittings gegaan.

“Hulle het baie van my juwele gevat, asook kontant wat aan my huiswerker behoort het,” het sy vertel.

“Die juwele is erfstukke van my ma en ouma en die sentimentele waarde wat ek daaraan heg is baie groot.”

‘n Buurvrou het onraad vermoed en die Brakpan SAPD gekontak.

Volgens Desiré, wat tydens die voorval reeds by die werk was, was die polisie ongelooflik gou op die toneel; die rowers was nog in die erf toe hulle arriveer.

Kapt Joep Joubert, woordvoerder van die Brakpan SAPD, het gesê dat die een rower daarin kon slaag om weg te kom.

Die ander een sal in die Brakpan Landdroshof verskyn, op ‘n aanklag van roof.

“Die moontlikheid word ook ondersoek dat die verdagte verbind kan word met ander misdade in die Brakpan omgewing,” het Joubert gesê.

Maandagmiddag (15 Julie)  het ‘n man, wat met ‘n mes gewapen was, by ‘n huis in Prince Georgelaan ingebreek en die 73-jarige Bets Braack oorval.

Sy is vasgebind en die rower het goedere uit die huis geneem voordat hy op die vlug geslaan het.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button