Editor's choiceLocal newsNews

Brakpan polisie sal nie boeliery in skole duld nie

Boeliery in Brakpan se skole sal onder geen omstandighede geduld word nie sê Kapt Joep Joubert, woordvoerder vir Brakpan SAPD.

Dié euwel is weer in die soeklig nadat ’n Graad ses leerder aan Laerskool Louw Geldenhuys haarself dood geskiet het met haar pa se vuurwapen.

Dit blyk uit briefies, wat dié 12-jarige meisie agter gelaat het, dat sy waarskynlik by die skool gespot en geboelie is.

Anneke Mostert se ouers, Daan en Margha, was ten tyde van die voorval met ’n oorsese vakansie en haar ouma het na haar omgesien.

Volgens Joubert sal enige voorval van boeliery wat onder die SAPD se aandag gebring word, in ’n baie ernstige lig gesien word.

“Ons veroordeel boeliery ten sterkste. Ons vra dat ouers hul samewerking in hierdie verband sal gee en hul kinders maan om hulself van sulke optrede te weerhou,” het Joubert gesê.

Hy het bygevoeg dat sommige ouers deeglik bewus is dat hul kinders boelies is, maar niks daaraan doen nie.

“Boeliery in skole kan in tragedies eindig en dit moet vermy word,” het Joubert gesê.

Joubert noem ook dat kinders, wat geboelie word, nie moet huiwer om met hul ouers, ’n onderwyser of die polisie te praat nie.

Related Articles

Back to top button