Editor's choiceLocal newsNews

Besigheidsmense mor oor haweloses

Daar is gemengde gevoelens oor die toenemende aantal mense wat deesdae van die wandellaan ‘n blyplek maak.

Die Herald het vroeër berig oor hawelose mense wat snags oop en bloot op vuil matrasse, kartonbokse en selfs onder plante slaap.

Sedertdien het die getal mense toegeneem en, volgens ‘n winkeleienaar, wat verkies het om anoniem te bly, is daar deesdae tot 30 mense wat snags die bitter koue trotseer en in die wandellaan slaap.

“Ons sit met ‘n reuse probleem,” het die 52-jarige winkeleienaar gesê.

“Hierdie mense brand snags enige ding wat hulle in die hande kan kry,” het die vrou gesê.

“Daar is oral oop vure en die grootste probleem is dat hulle nie skoonmaak nie.

“Die wandellaan het die naweek so erg gelyk dat ons self ingespring het en oral gebrande rommel opgetel het.

“Ons moet ook gereeld in die aande hierheen ry, om te toe te sien dat alles in orde bly by ons besigheid.”

Die vrou het bygevoeg dat die stank van uriene sommige dae ondraaglik is.

“Ek verstaan dat hierdie mense in groot nood verkeer en dat hulle onder baie moeilike omstandighede in die nag probeer slaap, maar dinge kan nie so aangaan nie.”

In teenstelling met dié vrou se misnoeë is daar egter talle mense wat voel dat die haweloses geen rede tot kommer is nie.

Die Herald het met mense gesels wat in die woonstelle in die wandellaan woon, en die algemene gevoel was dat die haweloses maar kan bly.

Sonica Steyn (36), wat in l Mansions woon, het gesê dat sy werklik jammer voel vir die mense.

“Soms is hulle bietjie lawaaierig, maar oor die algemeen pla hulle nie,” het sy gesê.

‘n 52-Jarige inwoner van Rosedene Court, wat versoek het dat haar naam nie gepubliseer word nie, voel dieselfde.

“Die mense pla niemand nie. Waarheen moet hulle tog gaan?” he die vrou gevra.

“’n Groter probleem waarmee ons te make het is die dwelmsmouse wat helder oordag en saans dwelms van die hand sit,” het sy gesê.

Sy het ook haar misnoeë uitgespreek oor rioolwater wat sedert verlede Donderdag by ‘n drein uitloop, tot in die wandellaan.

Tydens die Herald se besoek, Maandag, het die stinkende water inderdaad in die wandellaan gevloei.

“Dit is regtigwaar ‘n baie stink spul en daar moet eerder aan die probleme aandag gegee word,” het die vrou gesê.

Maandag was daar ook ten minste twee skoonmakers van Ekurhuleni wat gepoog het om papiere en blare bymekaar te vee en weg te gooi.

Lees ook:

Donate shoes for a good cause

Braving the cold for vulnerable children

Haweloses ontvang handgemaakte komberse

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button