Editor's noteLocal newsNews

Projek om kinders, wat vermis raak, op te spoor

Die graad R-leerders van die Laerskool Dalview het Dinsdagoggend grootoog nader gestaan toe hulle vingerafdrukke deur die Brakpan SAPD geneem is.

Die proses was darem vir ‘n baie goeie doel en daarop gemik om kinders, wat vermis raak, makliker te kan opspoor.

Die projek is deel van die Brakpan SAPD se “Reik uit na die gemeenskap” inisiatief en sal in die toekoms ook by ander belangstellende skole toegepas word.

Elke graad R-leerder het ‘n vorm ontvang, wat noukeurig deur die kind se ouer ingevul moes word. Dit bevat inligting oor die kind se naam, adres, geslag, gewig, haarkleur, merke, lengte en oogkleur. Daar is plek waar ‘n onlangse foto geplaas kan word, en ‘n vol stel vingerafdrukke van die kind is aangebring.

Ouers sal ook versoek word om ‘n stukkie van hul kind se hare af te sny en saam met die vorm te bewaar.

Die doel hiervan is om DNA van die kind beskikbaar te hê.

“Wanneer ‘n kind vermis raak is dit uiters noodsaaklik om al hierdie inligting so vinnig moontlik vir die polisie te gee,” het kapt Joep Joubert gesê.

“Met hierdie vorm het ‘n ouer alles dadelik byderhand en dit sal ‘n ondersoek vergemaklik,” het Joubert bygevoeg.

Die kinders was baie opgewonde oor die projek en daar is deeglik aan hulle verduidelik waarom hulle vingerafdrukke geneem word.

Kyk hier na meer foto’s

Related Articles

Back to top button