CrimeEditor's choiceLocal newsNews

Ouers en seun op bed vasgemaak, geslaan, gedreig en beroof

‘n Egpaar en hul 21-jarige seun het Vrydag, in die vroeë oggendure, ‘n uur van loutere hel beleef toe hulle deur drie inbrekers in hul huis oorval en getreiter is.

Die voorval het veral die 48-jarige vrou erg getraumatiseerd gelaat. Die inbrekers het deurentyd gedreig om haar leed aan te doen, maar het ook die pa en seun aangerand.

Die gesin woon in Sherwood Gardens en het versoek dat hul name en straatadres nie gepubliseer word nie.

Die eienaar (45) van die huis het aan die Herald gesê dat hy om ongeveer 3vm wakker geskrik het van ‘n geraas wat uit sy seun se kamer gekom het.

“Ek het soontoe gegaan en gesien hoe ‘n man ‘n vuurwapen op my kind rig,” het hy vertel.

“Ewe skielik was daar nog twee inbrekers by; waarvan een ‘n mes en die ander ook ‘n handwapen gehad het.” Volgens die man is hy en sy seun na die hoofslaapkamer, waar sy vrou steeds was, gedwing.

“Ek en my seun is gedwing om op ons mae op die bed te gaan lê en my vrou moes op die vloer, langs die bed, gaan lê,” het hy gesê.

Die twee mans se hande en voete is styf vasgebind terwyl die vrou se hande vasgebind is. Die inbrekers het haar hardhandig opgepluk en gedreig om haar seer te maak.

Toe haar eggenoot probeer opspring om haar te help, is hy met ‘n vuurwapen teen die kop geslaan. Die seun is ook herhaaldelik met die vuis teen die nek en in die ribbes geslaan.

“Twee van die inbrekers, wat baie jonk is, was veral uiters aggressief en ek is basies deur die huis gesleep,” het die vrou, wat sigbare beserings het, aan die Herald gesê.

Die inbrekers het die huis vir sowat ‘n uur lank geplunder en talle huishoudelike ware in die man se bakkie gelaai. Almal se selfone is ook gesteel.

“Hulle het na sowat ‘n uur met my bakkie weggery,” het die man vertel. “Toe alles stil raak het my vrou ‘n mes in die kombuis gaan haal en ons kon onsself bevry.”

“Daardie uur het soos ‘n absolute ewigheid gevoel. Die inbrekers het uit hul pad gegaan om ons te verneder en om soveel vrees as moontlik in te boesem,” het die vrou gesê.

“’n Mens is heeltemal magteloos en basies aan hulle genade oorgelewer.”

Die egpaar woon die afgelope 20 jaar in die huis en het net een keer van tevore probleme ondervind.

Die inbrekers het toegang verkry deur ‘n skuifdeur oop te breek.

Die saak word deur die Brakpan SAPD ondersoek.

Lees ook:

Garage robbed of R40 000

Body found with gunshot wound to the head

Shots fired at shop owner

Robber will spend 15 years behind bars

Related Articles

Back to top button