Editor's choiceLocal newsNews

Vrou brei drie maande lank om winter-projek te steun

Danksy die goedhartigheid van die publiek kon die Herald die week warm musse, kouse, serpe en komberse aan vier organisasies van die dorp oorhandig.

Die Herald se Winter-projek, wat jaarliks in samewerking met VC Super Spar, in Dalview, aangepak word, was weereens ‘n sukses.

Groot lof moet egter vanjaar aan veral een persoon gaan. Heila de Kock (59), eggenoot van een van die eienaars van VC Spar, het reeds in Maartmaand begin om wolmussies te brei. Sy het oor ‘n tydperk van sowat drie maande meer as R4 000 se wol gebruik om sowat 300 kleurvolle mussies vir kinders sowel as volwassenes te brei.

Die mussies is van dik, goeie gehalte wol gebrei en sal beslis beskerming teen die koue bied.

“Ons (VC Spar) het verlede jaar komberse geskenk en vanjaar het ek besluit om mussies te brei,” het Heila aan die Herald gesê.

“Ek geniet dit om te brei en hierdie was vir my ‘n lekker uitdaging, veral omdat die eindproduk ‘n verskil in ander se lewens kan maak.”

Heila het elke aand, vir baie aande, gesit en brei en al het haar vingers kwaai deurgeloop en selfs stukkend geraak, het dit haar nie verhoed om voort te gaan nie. Die wol wat Heila gebruik het is deur VC Super Spar geborg.

Dit was vanjaar die negende jaar dat die Herald die projek aangepak het. Benewens die groot hoeveelheid mussies is daar ook ‘n skenking van 150 paar splinternuwe kouse deur die leerders van St Columba’s Skool, in Benoni, gemaak. Die publiek het ook weer hul harte oopgemaak en al die items wat ontvang is, is aan die Ondersteuningsraad van Brakpan, die Rooikruis, die East Rand Children’s Haven en Mother’s Nest oorhandig.

Lees ook:

Beurtkrag knou nie brei-maraton nie

Pretty Things for Little Things campaign kicks off

 

Related Articles

Back to top button