Editor's choiceLocal newsNews

Polisie vat leeglêers in die wandellaan vas

Lede van die Brakpan Anti-kapingseenheid, asook van die Ekurhuleni Metro Polisie se Berede-eenheid, het verlede week ‘n spesiale optrede uitgevoer, in ‘n poging om die Brakpan wandellaan reg te ruk.

Die Herald het onlangs berig dat die wandellaan, wat jare gelede die trots van die dorp was, erg vervalle is en ‘n lushof vir leeglêers en kwaaddoeners geword het.

Talle mense slaap snags oop en bloot in die wandellaan. Die berig was in die Herald se uitgawe van 13 Maart. (Die lewe druk erg).

Die lede het vroeg verlede Dinsdagoggend al die ingange tot die wandellaan versper en almal, voor die voet, deursoek en ondervra.

Twee verdagtes (34 en 29 jaar) is gearresteer vir die besit van gesteelde goedere, een (22) vir die besit van dwelmmiddels, een (31) vir die besit van dagga, en een vir die besit van huisbraakimplimente.

Die moontlikheid word ook ondersoek dat die persoon wat vir die besit van dagga gearresteer is, dalk verbind kan word met ‘n diefstalsaak.

‘n Totaal van 17 persone is ook vir leeglêery gewaarsku.

Mense wat snags in die wandellaan slaap is ook gemaan om alternatiewe blyplek te kry.

Die algemene reaksie van die publiek was verbasing.

Sommige was glad nie tevrede met die optrede nie, terwyl ander weer gedink het dit was nie ‘n slegte idee nie.

Irma Branders, wat saam met ‘n familielid deur die wandellaan gestap het, was een van die mense wat voorgekeer en deursoek is.

“Ek gee nie om nie, want ek het niks om weg te steek nie; hierdie plek gaan by die dag agteruit en dit is hoog tyd dat iemand iet daaraan doen,” het sy gesê.

Daar was egter ook mense wat erg ongeduldig was en gevoel het dat dit ‘n vermorsing van tyd was.

Kapt Joep Joubert, woordvoerder van die Brakpan SAPD, het gesê dat dit nie die laaste optrede van dié soort was nie.

“Die twee eenhede het goeie werk verrig en die publiek moet maar gewaarsku wees dat daar opvolg werk gedoen sal word,” het hy gesê.

Kyk hier na die video van die optrede

Kliek hier vir meer foto’s van die optrede

Related Articles

Back to top button