Community AnnouncementsNews

Teresa trek die grotes uit en sy vertel hoe

Enige hengelaar sal trots wees daarop om ‘n baber van oor die 17kg en ‘n karp van oor die vyf kilogram op een dag uit te trek.

Dit is presies wat Teresa Nel (17) onlangs vermag het tydens die Vaaldam Bonanza hengelkompetisie en daarmee het sy boonop ‘n allemintige R20 000 in haar sak gesteek.

Vanjaar was die 12de keer dat die Bonanza, waaraan honderde hengelaars deelneem, gehou is en dit was die eerste keer, in die bestaan daarvan, dat ‘n vrou die algehele wenner was.

Die baber wat Teresa uitgetrek het, het die skaal op 17.82kg getrek en die karp wat gebyt het, het 5,02kg geweeg.

Sy het ‘n total van 1475 punte behaal, wat haar die wenner van die kompetisie gemaak het.

Teresa vertel dat sy al van ses-jarige ouderdom vis vang en dat sy ten minste twee keer ‘n maand ‘n lyntjie gaan nat maak.

My pa, Jan is ‘n groot hengelaar en ek gaan maar altyd saam met hom. Jan het juis verlede jaar die kompetisie, wat sy dogter vanjaar gewen het, ingepalm.

Teresa sê sy geniet dit baie en het glad nie ‘n probleem met die “ bietjie grillerigheid” wat daarmee gepaard gaan nie.

“Ek sit my eie aas aan die hoeke en ek skrik ook nie om ‘n vis vas te hou nie,” vertel sy.

Sy is ook nie suining om haar geheime te deel nie.

Volgens haar het sy die karp met ‘n mieliebom en mieliepitte gevang en sy het so bietjie tandepaste ingewerk — Colgate tandepaste vir die hengelaars wat al die detail wil hoor en dalk haar resep op die proef wil stel

Die baber het sy met ‘n viskop aan die hoek gekry.

“Ek het nog nie werklik voorheen aan kompetisies deelgeneem nie maar dit was regtig baie lekker om te wen. Ek besluit nog wat om met die R20 000 prysgeld te doen,” het sy gesê.

Sy het haar oog nou op die Bloemhof Bonanza, wat volgende jaar plaasvind.

 

 

Die karp wat sy uitgetrek het, het 5.02kg geweeg.
Die karp wat sy uitgetrek het, het 5.02kg geweeg.

 

Related Articles

Back to top button