Local newsNews

Dané gebruik haar talente

Doelgerig en dinamies is twee woorde wat die 12-jarige Dané Swart, ‘n leerder aan die Laerskool Dalview, goed opsom.

Die mooi donkerkop het reeds op ses-jarige ouderdom begin bou aan haar drome en glo dat elke mens die talent wat hy of sy gekry het ten volle moet gebruik.

In April, vanjaar, het Dané ‘n uitnodiging van die Just You Model and Artist Management Agentskap ontvang, om ‘n oudisie by te woon voor Jack Newman en Blake Babbitt, van die New York Film Academy.

Sy is na afloop van die oudisie genooi om volgende jaar deel te vorm van ‘n groep jongmense wat gedurende die Julie skoolvakansie ‘n somer kamp, wat deur die New York Film Academy aangebied word, in New York te gaan bywoon.

Dané het ook vroeër vanjaar met groot sukses deelgeneem aan ‘n internasionale talent kompetisie (International Talent Showcase), wat by Monte Casino plaasgevind het.

Sy moes haarself in vier kategorieë, naamlik sang, drama, dans en modelwerk bewys, en het besonder goed gevaar.

Rick en Kimberly Myers, van die Arts Applause Rising Talent Showcase, in Orlando, Florida, was onder die beoordelaars.

Dané het haarself so goed van haar taak gekwyt dat sy ook na afloop van dié kompetisie genooi is om van 22 Junie tot 30 Junie 2014 in Orlando, Florida, aan ‘n talentkompetisie te gaan deelneem.

Sy is tans ingeskryf by die Just You Model and Artists Management Agentskap om haar voor te berei vir al die uitdagings wat op haar wag.

“Dit is vir my baie lekker om my talente op die verhoog uit te leef,” het Dané gesê.

“Dit is wel harde werk, en ‘n mens moet deursettingsvermoë hê, maar met die liefde en ondersteuning van my ouers en familie kry ek dit reg.”

Dané se ma, Hannelie Swart, sê dat sy ongelooflik trots is op haar kind.

”Dané glo daarin om nederig met haar voete plat op die aarde te bly,” het Hannelie gesê.

Die talentvolle kind se raad aan ander jong mense is om in hulself en hul drome te glo.

Related Articles

Back to top button