Local newsNews

Pastoor König lei nou haar gemeente

Ek is lief vir die Here, vir my gesin en familie.

Met die oog op Vrouemaand wat in Augustus gevier word, het die Herald gaan kennis maak met die pastoor van die AGS Kerk, Brakpan-Wes gemeente wat nou die gemeente lei.

Past Melisandi König (41) van Dalview is sedert 1 Julie die pastoor van die gemeente, wat ook vanjaar sy 50ste bestaansjaar vier.

König is naas Zelda Coetzee die tweede vroue pastoor van die gemeente. Coetzee was in die laat 1990’s die jeug pastoor.

König het in 2002 reeds tydens haar studies by die Brakpan-Wes gemeente ingeskakel, aanvanklik as lidmaat.


LEES OOK: Tweedy Park crisis: no end in sight


Daarna het sy haar praktiese jaar (tydens haar honneursjaar) in die gemeente voltooi. In 2005 is sy georden as pastoor van die AGS en beroep as mede-leraar.

König was sedertdien voltyds deel van die gemeente se personeel op 9 Mei vanjaar het die gemeenteraad haar beroep as presiderende pastoor van die Brakpan-Wes gemeente.

Sy is het op 1 Junie diens aanvaar in die nuwe posisie. Sy vertel dat sy haar voete reeds goed gevind het en uitsien na die pad vorentoe.

“Alhoewel my verantwoordelikhede so bietjie verander het, is die werk en gemeente gelukkig vir my bekend,” vertel sy.

“Dit is maklik om jou voete te vind wanneer die mense rondom jou dieselfde hart vir die gemeente het en ons kan saamwerk om ‘n verskil te maak, nie net in die gemeente se lewens nie, maar ook in ons gemeenskap.

“My visie vir die gemeente is dat elke lidmaat, ons gemeente se roeping, Meer vir God, Gemeente en Gemeenskap, sal lééf.

“Daardeur voer ons Jesus se woorde in Johannes 13:35 uit en is dit my gebed dat mense by die gemeente sal aansluit, as gevolg daarvan: ‘As julle mekaar lief het, sal almal daaraan sien dat julle My dissipels is’.”

Op die vraag oor hoe sy struikelblokke sal oorkom is haar antwoord:

“Dit is soms ‘n uitdaging om ‘n balans te vind tussen werk en ‘n mens se persoonlike lewe. Die bediening kan jou maklik insluk en uitbrand. Dus fokus ek op selfsorg en werk hard daaraan om ‘n balans te vind tussen die twee.”


LEES OOK: Royal birthday wishes for Brakpan centenarian


Sy beskryf haarself as ‘n persoon wat lief is vir die Here, vir haar gesin en familie.

“Ek geniet en gee om vir mense, is hardwerkend, sagmoedig en lojaal en ek is innig dankbaar vir en koester die wonderlike mense en vriende in my lewe. Dit is ‘n voorreg om in die Koninkryk te werk en mense te dien.”

Wanneer König nie besig is met die doen en late van die kerk en haar werk nie, geniet sy dit om te kuier met goeie vriende en so nou en dan balle by die gholf-dryfbaan te slaan.

Sy vertel dat sy ook ‘n baie sagte plek vir haar troeteldiere het.

“Ek hou ook daarvan om tyd in die natuur te spandeer, ver te stap op die strand, legkaart te bou en na musiek te luister.”



Follow Us: Facebook: Twitter: Instagram

Related Articles

Back to top button