Local newsNews

Man sterf by Brakpan “groot gat” toe hy tiener probeer red

Die gat is onheilspellend diep en gedeeltelik met water gevul.

‘n Treurspel het verlede Maandagmiddag in Sherwood Gardens afgespeel toe ‘n 40-jarige man oorlede is nadat hy gepoog het om ‘n tiener, wat by ‘n steilte afgeval het, te red.

Die voorval het plaasgevind by die plek in Sherwood Gardens wat bekend staan as die “groot gat”.

‘n Massiewe gat wat op plekke meer as 70m diep is het ontstaan as gevolg van mynbedrywighede wat in die verlede daar plaasgevind het.

Die gat is ook gedeeltelik met water gevul.

Alhoewel daar pogings aangewend is om dit te beveilig en die publiek weg te hou van ysingwekkende afgronde is daar tog plekke waar ‘n persoon tot teen die rand van die gat kan beweeg.

‘n Groep vriende het verlede Maandagmiddag ongeveer 17:00 die area besoek om te gaan vasstel of daar steeds water aktiwiteite soos “zip lining” by ‘n gedeelte van die gat plaasvind.


Johan Viviers, of Apie soos almal hom geken het, is op die toneel dood. Hy het gereeld vis gevang saam met sy seuns. Sy jonger seun Dolfie is in die foto.

Dit is tóé dat die 14-jarige meisie haar balans verloor en oor die rand van die gat gegly het.

“Alles het so vinnig gebeur,” het Mariska Venter (34), ma van die kind vertel (sy het versoek dat haar kind se naam nie gepubliseer word nie).

Toe die kind val het Johan (Apie) Viviers sonder om te skroom na die plek gehardloop en self teen die steil afgrond afgegly om haar te probeer red.

Apie, soos hy vir almal bekend was, se beste vriend Keith Fourie (33), wat ook teenwoordig was, het aan die Herald vertel van die angswekkende oomblikke wat daarna gevolg het.

“Apie is vinnig oor die rand van die afgrond en hy het sy rug en sy kop gestamp soos hy na benede geval het,” het Keith vertel.

Hy het met sy gesig na onder in die water te lande gekom en Keith het besef dat hy vinnig ‘n plan sou moes maak om by sy vriend uit te kom.


Keith Fourie op die plek waar die groep vriende verlede Maandagaand by die “groot gat” bymekaar gekom het voordat die tragedie plaasgevind het.

Hy het gehardloop tot by ‘n plek waar dit veiliger was om na die onderkant van die gat af te gly.

Hy het op ‘n punt in die water geduik en na sy vriend geswem.

“Toe ek hom bereik het, het ek hom omgedraai en kon ek sien dat daar nog tekens van lewe was,” het Keith vertel.

“Ek het myself teen ‘n rots gestut en net gesorg dat my vriend se kop bo die water bly. Op ‘n stadium het hy vir my gekyk en daar was ‘n baie rustige glimlag op sy gesig, voor hy weer sy oë toegemaak het.”

Die tiener meisie wat ook in die water te lande gekom het, was hulpeloos aangesien sy haar skouer ernstig beseer het.

“Ek was buite myself en het met my voertuig gery tot by ‘n plek waar ek in die water kon kom om na my kind te probeer swem,” het Mariska vertel.

‘n Tienerseun, wat saam met Mariska was, het ook in die water gespring en verstrengel geraak tussen riete.

“Ek moes omdraai om hom te gaan help en daarna het ek nie meer krag gehad om by my kind uit te kom nie,” het Mariska vertel.

“Ek het op ‘n rots gaan sit en begin huil. Dit het gevoel of al my ingewande in my keel opstoot. Ek het nog nooit so magteloos gevoel nie,” het sy gesê.

Die nooddienste is intussen ontbied deur van die ander mense in die groep.

Nadat hulp by Apie kon uitkom is daar vir lank gespook om sy lewe te red, maar hy is dood verklaar op die toneel.

Die 14-jarige kind is na die Verre Oos-Rand hospitaal vervoer waar sy Vrydag ‘n operasie aan haar skouer ondergaan het.

“Apie was die tipe mens wat sy medemens sou help sonder om twee keer te dink. Hy sou die klere aan sy lyf gee vir iemand wat dit nodig het,” het Keith vertel.

Dit was ook Keith wat die tyding van Apie se dood aan sy ma Evelyn (58) van Hamiltonlaan gaan oordra het.

“Hulle het vir my gebel en gesê dat daar ‘n ongeluk was maar ek het vir geen oomblik gedink dat ek nie weer my enigste kind sou sien nie,” het ‘n hartseer Evelyn gesê.

“Hy het sy hele lewe lank deur by my gewoon en hy was my alles. Sy pa (ook Johan) is vier jaar gelede oorlede en nou is dit net ek. Ek gaan my kind bitter baie mis.”

Mariska het gesê dat sy en Apie al vir jare vriende is.

“Hy het probeer om my kind te help. Hy het nie vir een oomblik aan sy eie veiligheid gedink nie. Dit is hoe hy was.”


Metro sal probleem by Tweedy Park aanspreek


Oor sy beste vriend se dood is Keith baie hartseer.

“Daardie laaste oomblikke wat ons saam in die water was sal my altyd bybly. Toe hy die laaste keer direk in my oë kyk, was daar ’n rustigheid op sy gesig wat ek nie kan beskryf nie. Toe hy vir my glimlag en sy oë daarna toemaak het ek geweet hy het my gegroet terwyl ek daar saam met hom in die water was.”

Apie laat drie kinders, Dolfie (10), Johan (15) en Ziané (1), na.

Sy begrafnis vind Woensdag om 10:00 vanuit die Salwing Sentrum op die hoek van Hamiltonlaan en Gordonstraat plaas.

Die Brakpan SAPD het die voorval bevestig en ‘n geregtelike doodsondersoek sal sy gang gaan.



Follow Us: Facebook: Twitter: Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button