Local news

Ma dink sy kry een kind, toe is dit ‘n tweeling

Die ouerpaar het geen idee gehad dat hulle 'n tweeling ryker sou word nie.

‘n Ma (27) van Boundaryweg het op 8 Januarie die verrassing van haar lewe gekry toe sy aan ‘n tweeling geboorte geskenk het, terwyl sy die hele tyd onder die indruk was dat sy net een kind verwag.

Bronwyn van der Heever was net so verras soos die Advanced First Responders van die Brakpan Responders groep toe sy net na 18:00 ‘n tweeling ryker geword het. Lede van die groep het haar te hulp gesnel.

As gevolg van finansiële omstandighede het Bronwyn nooit ‘n sonar ondergaan nie, en het sy dus geen idee gehad dat sy ‘n tweeling verwag nie.

Toe sy laat die middag op 8 Januarie in kraam gaan is sy by haar huis deur Advanced First Responders bygestaan.

Daar was geen vervoer om haar by hospitaal te kry en ‘n ambulans, wat veel later opgedaag het, is ontbied. Lede van die Advanced First Responders mag nie pasiënte vervoer nie.
Zayden is eerste gebore en na benoude oomblikke, wat rampspoedig kon uitdraai, het Zandalee ook haar opwagting gemaak.

“As dit nie was vir die Advanced First Responders asook Dawie Keyser van Intermediate Life Support (Springs) kon dinge baie lelik uitgedraai het,” het ‘n dankbare Bronwyn vertel.

Bronwyn en die babas is na die tyd na die Vere Oos-Randse Hospitaal vervoer en die dag daarna ontslaan.

Die babas is piepklein, en dit is moeilik vir Bronwyn om klere te kry wat vir Zandalee pas.

Bronwyn het aanvanklik die babas geborsvoed maar het nie genoeg melk gehad vir beide babas, wat nou op formule-melk is.

Bronwyn wil begin werk sodra babas oud genoeg is.

Die pa van die tweeling, Roland Vos (25), sukkel ook tans om werk te kry en is bekommerd oor hoe hulle vir die tweeling gaan sorg.

Hy sê enige hulp om werk te kry al grootliks waardeer word.

“Ek sal selfs toilette skrop as dit beteken ek kan vir my kinders sorg,” het hy gesê.

Hy sukkel al ‘n ruk lank om werk te kry, en het vertel van ‘n werksgeleentheid wat hom aangebied is. Daar is

afgespreek dat die persoon hom sou oplaai op ‘n sekere plek. “Ek het vir drie ure gewag maar niemand het opgedaag nie,” het Ronald vertel.

Die ouerpaar bly in ‘n Wendy-huisie in die agterplaas van ‘n huis in Boundaryweg 51, en sukkel veral met die hitte wat op die oomblik ondraaglik is.

Daar is een venster en deur en geen vorm van lugverkoeling nie.

Roland hoop om ‘n beter blyplek vir sy gesin te kry maar om dit te kan vermag kort hy ‘n werk.

Die twee sal enige donasies waardeer. Bronwyn kan enige tyd van die dag by die huis gevind word. Die ouerpaar het nie op die oomblik ‘n selfoon nie, so kontak moet in persoon gemaak word.

Andersins kan Reinette van den Heever by 064 400 9502 gekontak word.

Reinette is betrokke by die Brakpan Responder groep asook Instruments of God en was een van die Advanced First Responders wat bystand gegee tydens die tweeling se geboorte. Janey Bowie en Adel Cronje het ook hulp verleen.

Daar was reeds mense wat donasies in die vorm van klere en kombersies gemaak het en daarvoor is die ouerpaar baie dankbaar.

Related Articles

Back to top button