Local newsNews

Werklose pa sorg vir onvergeetlike verjaarsdag vir sy kind

Danksy weldoeners het ‘n vierjarige kind ‘n verjaarsdag beleef wat sy werklose ouers nie vir hom sou kon gee nie.

“Die uitdrukking op my kind se gesig en daardie absolute geluk en vreugde wat hy ervaar het, is iets wat ek nie kan oorvertel nie.”

Dit is die woorde van ‘n 39-jare werklose pa wat onlangs gesorg het dat sy seuntjie ‘n onvergeetlike vierde verjaarsdag beleef het.

Hansie Brand en sy vrou Nikita (24) woon in ‘n sorgsentrum in die dorp saam met hul seun Ruan, wie op 11 Oktober vier jaar oud geword het.

Hansie het sy werk gedurende die Covid-pandemie verloor en sukkel sedertdien om weer werk te kry.

“My gesin is my alles en wanneer dit by my kind kom wil ek net die beste vir hom hê,” het Hansie vertel.

Die klein woelwater is dol oor Paw Patrol en veral die karakter Chase, wat ‘n polisiehond is.

Hansie het onlangs vir adjudant offisier Barry Kruger van die Ekurhuleni Distrik Operasionele Taakspan ontmoet en gevra oor die moontlikheid dat hy sy kind op sy verjaarsdag kan verras.

“Ruan raak baie opgewonde wanneer hy ‘n polisievoertuig sien en ek het geweet sy dag sou baie spesiaal wees indien hy dalk ‘n polisieman en -voertuig van nader sou kon bekyk,” het Hansie vertel.

Kruger het ingestem en die pa se versoek selfs ‘n stap verder geneem en ook sy vrou, Bianca, en haar beste vriendin Chane Bothma aan die werk gesteek.

Dié twee vroue het gesorg dat daar hope geskenke, décor, ballonne en lekkergoed was vir Ruan se verjaarsdag.


LEES OOK: Hitte stuit nie inwoners se skoonmaak projek nie


“Alles het so mooi bymekaar gekom op die dag. My kind was uit sy vel uit van opgewondenheid. Daar was geen keer aan hom nie,” het Hansie gesê.

Kruger het ook gereël dat ‘n kollega van die Ekurhuleni honde-eenheid, adjudant offisier Ricaro van den Berg, met twee honde opdaag en ‘n verdere verrassing was Spotty (die gelubringer polisehond) wat ook ‘n draai gaan maak het.

‘n Weldoener van Alberton (Vicki) het gesorg vir ‘n pragtige verjaarsdagkoek.

“Al hierdie mense het gesorg dat my kind ‘n verjaarsdag beleef het waarvan hy nog steeds nie ophou praat nie.

Hy speel met al sy nuwe speelgoed en hy is baie in sy skik met die plakkies en klere wat hy gekry het.

“Dit was nie vir my en Nikita finansieel moontlik om hom so te bederf nie. Ek sal vir altyd dankbaar wees vir almal wat gehelp het,” het Hansie gesê.


Related Articles

Back to top button