Local newsNews

Nuwe adjunkhoof vir Hoërskool Stoffberg

Die nuwe adjunkhoof het meer as 10 keer reeds die toekenning vir die beste vakprestasie in inligtingstegnologie en rekenaartoepassingstegnologie in die distrik verwerf.

Alida Visser (54) is aangestel as adjunkhoof van Hoërskool Stoffberg. Die inwoner van Van Dykpark is vir die afgelope 31 jaar verbonde aan die skool en sien baie uit na die nuwe uitdaging.

Sy is getroud met Bennie (55), wat haar skoolliefde en sielsgenoot is en hulle het twee dogters Timoné (23) en Alicia (21).

Die Herald het met die passievolle onderwyser gesels.

Gee ‘n kort beskrywing van jou onderwys loopbaan
Ek het begin skoolhou by die Hoërskool Stoffberg in Januarie, 1991. In 2009 is ek bevorder tot departementshoof.

Ek is op verskeie plekke betrokke soos debutante, Mnr en Mej Stoffie, netbalorganiseerder en netbal direkteur vir NWU-reeks, bemarking, akademiese koördineerder en vele meer.

Ek is al vir die vierde jaar interne moderator vir inligtingstegnologie (IT) in die nasionale senior sertifikaat eksamens (Gauteng).

Ek het ook meer as 10 keer reeds die toekenning vir die beste vakprestasie in IT en rekenaartoepassingstegnologie (RTT) in die distrik verwerf.

Watter vakke bied jy aan en vir watter graad. Bly dit nou onveranderd met jou aanstelling?
Ek het voorheen Afrikaans vir Graad Agt aangebied, asook wiskunde vir Graad Agt tot 11.

Op die oomblik bied ek IT (Graad 10 tot 12) en RTT vir Graad 11 en 12 aan. Die aantal periodes behoort effens minder te word om meer tyd vir bestuurstake te maak.

• Wat geniet jy die meeste van skoolhou?
Ek is gebore met ‘n liefde vir kennis oordra en koester ‘n onuitblusbare passie vir jongmense. Dit is ook vir my ‘n ongelooflike voorreg om met die kroon van God se skepping te werk en koester die grondgebied om met jong harte te mag werk.

Ek is ook besonder lief vir my vakke omdat dit so belangrik is om vandag vaardig met die rekenaar en ander tegnologie te wees. Hierdie vakgebied verander daagliks en hou ‘n mens op jou tone.

• Wat behels jou pos as adjunkhoof van die skool?
My eerste en belangrikste taak sal wees om die hoof van die skool te ondersteun en by te staan in die bestuur van die skool.

Ek sal steeds akademiese verpligtinge ook verrig en sal die akademie van die skool bestuur. Ek sal die skool en die leerders vir seker eerste stel en in alle opsigte ophef.

• Is dit die eerste keer in die skool se geskiedenis dat ’n vrou aangestel word as adjunkhoof?
Sovêr my kennis strek, ja. Omtrent tyd!

• Indien jy tyd kon terugdraai, sou jy weer die onderwys as beroep gekies het?
Vir seker. Ek is baie lief vir klasgee, vir die opheffing van kinders na vlakke wat hulle nooit vir hulself sou voorstel nie. Ek sal dit weer en weer kies.

• Wat sou jy graag omtrent die huidige onderwysstelsel wil verander?
Ek sou beslis die grondslagfase wou aanpas vir beter vaslegging van basiese vaardighede soos spelling, lees en getalbegrippe met speelaktiwiteite.

Ek sou die kurrikulum van heelparty vakke wou aanpas om meer intensiewe leerprosesse in te sluit. Die grootste aanpassing wat ek sou wou maak is om onderwyskolleges terug te bring vir goeie opleiding van onderwysers.

• Wat doen jy graag in jou vrye tyd?
Ek spandeer graag tyd met my twee dogters en my man. Familie is vir my baie kosbaar. Ek is ’n sterk vrou wat graag vrouegeleenthede ondersteun en selfs aanbied.

Ek koester ’n onwrikbare gees vir die opheffing van vroue in die gemeenskap en sommer net in die hele samelewing. Ek tree ook op as motiveringspreker by vroue aangeleenthede.

‘n Mens sal dit nou dalk nooit sê nie, maar ek is baie lief vir draf en fietsry. Ek doen graag die parkruns met my ou brakkie, Angel. Ek is ’n kat-mens en spandeer graag tyd met ons twee katte, Oliver en Melanie.



LEES OOK: Employers should be aware of quiet quitting

Related Articles

Back to top button