Local newsNews

Inwoners rol moue op om dorp skoon te kry

Die groep beplan om elke Sondag 'n nuwe gedeelte van hoek tot kant skoon te maak.

Luzia van Rooyen en haar familie het Sondag die strate van Brakpan eiehandig begin skoonmaak.

Luzia, wat op ‘n plot net buite Brakpan woon, het saam met nege vriende en familielede besluit om die toestand van Brakpan-sentraal se strate self aan te pak om ‘n verskil te maak.

Die groep dinamiese mense het vroeg oggend in Parkstraat begin en eers laat middag klaar gekry. Op die dag is menslike ontlasting, naalde, bosse, en ander rommel opgetel en verwyder.

“Dit is harde werk om ander mense se gemors skoon te maak en dit het lank gevat om bosse en takke te verwyder,” het Luzia aan die Herald vertel.

Dit het ook langer geneem omdat hulle nie genoeg gereedskap en hande gehad het om alles gedoen te kry nie.

“Dit sal baie help as mense ‘n handjie kan bysit om ‘n verskil te maak.”

Hulle beoog om in die toekoms selfs mense, wat op straat woon, betrokke te kry om te help met die skoonmaak gevolg met ‘n maaltyd vir hulle harde werk.


LEES OOK: Sassa cards work like any other bank card


Alhoewel dit die eerste keer is wat hulle ’n skoonmaakdag gehou het, beplan hule om elke Sondag ’n nuwe gedeelte van Brakpan-sentraal aan te pak en sodoende die dorp skoon te hou.

“As daar nou net mense sal inskakel om te help met bakkies en gereedskap kan ons meer gedoen kry op Sondae.”

Enigiemand wat bereid is om te help, om sodoende die dorp beter daarna te laat uitsien, kan die groep Sondag in Voortrekkerweg bystaan.

Related Articles

Back to top button