Local newsNews

In die Kollig

Leer ons mense ken.

Belinda Coetzer (48) is geen onbekende gesig in die dorp. Sy is die eienaar van ’n dagsorgsentrum, maar is meer bekend vir die welsynswerk waarmee sy gedurig besig is. Sy is getroud aan Rudi Coetzer.

Jy is betrokke by organisasies in die dorp wat opheffing doen en uitreik na ander. Vertel meer daarvan.
Ek was al by verskeie organisasies betrokke en is die ondervoorsitter van Brakpan vir Brakpan (B4B).

Die hoofdoel van B4B is om samewerking tussen organisasies in Brakpan te bewerkstellig. Ons is ook gefokus op die opheffing van die Brakpan gemeenskap, deur die gemeenskap, binne Brakpan woonbuurte.

Hoekom is dit vir jou belangrik om betrokke te wees in die gemeenskap?
Ek wil ’n verskil maak, al is dit net een verskil per dag in iemand se lewe.

Waar kry jy die inspirasie om te doen wat jy doen?
My inspirasie kom daaruit wanneer ek die dankbaarheid in volwassenes en kinders se oë sien. Wanneer iemand net bloot dankie sê, inspireer dit my om meer te wil doen in my gemeenskap.

Wat maak Brakpan uniek?
Die inwoners. Hulle kan saamstaan wanneer dit moet.

Sal jy ooit in ’n ander dorp wil gaan bly?
Beslis nie, ek is ’n volbloed Brakpanner.

Wat is jou beroep?
Ek is die trotse eienaar van Little Minions Dagsorg en Sparkling Unicorn Haarprodukte.

Wat maak jou onmiddellik kwaad?
Mense wat nie die son sien skyn oor ander nie, ouers wat hul kinders misbruik as verskoning om te bedel en leuens.

Wat maak jou gelukkig?
Om ’n kind van God te wees. Om my medemens te kan help. Om my man en kinders te sien lag.

Dink jy dit is belangrik dat inwoners in die komende munisipale verkiesing hul kruisies gaan trek en hoekom?
Ja, dit is jou reg. Stem of bly stil.

Maak jy graag kos en wat is jou gunsteling gereg om te maak?
Ek is maar lui om kos te maak. Die kinders in die huis bederf my. Hulle maak gewoonlik kos, maar wanneer ek wel agter die potte is, sal ek gekookte kos maak.

Wat sal mens altyd in jou handsak kry?
Ek is nie ’n handsak-mens nie, maar in my broeksak altyd lipice.

Sal jy vir ’n week sonder jou selfoon kan klaarkom?
Enige tyd, alhoewel ek dink dat die gemeenskap my sal aangee as vermis, want my foon is 24/7 besig.

Related Articles

Back to top button